Ballet studio gee terug aan die gemeenskap
Onder leiding van Su-Mari Swart maak sorg dié studio nie net vir vermaak nie.
MBOMBELA – Ballet word beskou as een van die mooiste vorme van dans ter wêreld. Hier in ons eie midde is dit egter selfs mooier want dit word gedans vir ‘n goeie doel.
Dit is juis wat Su-Mari Swart van La Pointe Studio se doel was toe sy die ateljee in 2014 geopen het. Dit het op haar hart gedruk dat alle winste wat hulle maak, in die gemeenskap teruggeploeg moet word.
LEES OOK: Altyd ruimte vir kinders in die kunste kollig
Die winste van vanjaar se konsert is geen uitsondering nie. “Dit gaan regtig nie oor my nie. Dit gaan oor die dansers wat so hard werk om ‘n vertoning op die planke te bring en die feit dat hulle gemotiveer word deur ‘n goeie doel,” sê Swart.

‘n Gedeelte van dié jaar se winste gaan aan die kinderpasiënte Lincoln Joubert en Jordan Fitzgerald, maar die ontvanger van die res van die fondse is nog vir Swart ‘n gebedsaak.
Vir haar is dit die grootste vreugde om te kan choreografeer. “Dis ‘n voorreg om die dogtertjies te kan leer om hul lyfies te respekteer en om musiek te kan hoor en te kan voel,” sê sy.
LEES OOK: Dansers bekoor gehoor by vanjaar se Eisteddfod
Haar verhoogskoene het sy egter lank gelede reeds opgehang. “Party mense floreer op die verhoog terwyl ander agter die gordyne floreer.”
Sy verwys na een van haar senior ballerinas, Lizl Pretorius, vir wie die verhoog ‘n tuiste is. Pretorius erken self dat sy dit baie geniet. “As jy dit eers proe, dan los dit jou nie. Ek glo ek is gebore om op die verhoog te wees.”

Vanjaar se tema vir die konsert, “Verfkwas”, sluit juis hierby aan. Sommige mense skep die kunswerk agter toe deure en sommige is self die kunswerk wat vertoon word. Albei het egter die mooiste verskeidenheid kleure.
LEES OOK: Van klavier tot harp by vanjaar se eisteddfod
“In die donkerte waarin ons woon, is dit goed om altyd die kleur raak te sien,” sê Swart.
Die ateljee se betrokkenheid by die gemeenskap en benadering tot ballet as ‘n vorm van uitdrukking maak dit beslis uniek.

Vanjaar se konsert word op 14 en 15 November gehou. Die kaartjies vir die 14de is reeds uitverkoop, maar kaartjies vir die 15de is nog beskikbaar teen R80 per persoon. Belangstellendes kan Pretorius skakel by 084-208-7668.
