Beertjies en Smurfies hou saam lekker konsert
Almal het hulle sertifikate ontvang wat toon dat hulle nou gereed is vir die grootskool.
Met nog ‘n jaar wat einde se kant toe staan, het Beertjie Skool en Smurfie Kleuterskool op 19 Oktober reeds hulle jaareindkonsert met die Kersverhaal as tema, by die Hervormde Kerk op die dorp gehou.
Al die kleingoed, van die babas tot die kleuters, was deel van die konsert. Almal was fraai aangetrek en die verhoog pragtig versier.
Past. De Wet Prinsloo het die geleentheid geopen.
Die kleuters het verskeie liedjies gesing en ook oulik saam gedans.
Daarna was dit tyd vir die gr. R’e se “gradeplegtigheid”. Tussen Beertjie Skool en Smurfie Kleuterskool is daar nege kinders wat volgende jaar gr. 1 toe gaan. Hulle is Zea Prinsloo, Zurika du Plooy, Bismarck Bronkhorst, Leoney Nagel, Divan van Staden, Francois Naudé, Emmanuel Henning, Yanike du Plessis en Barend Naudé.
Almal het hulle sertifikate ontvang wat toon dat hulle nou gereed is vir die grootskool. Die ouers het daarna heerlike versnaperinge geniet en gekuier.



