Mercedes-Benz se splinternuwe buksie is propvol verrassings
Die A-Klas het al ‘n lang pad gekom sedert die internasionale bekendstelling van die eerste model nagenoeg 21 jaar gelede.

Toentertyd se ontwerp het soos ‘n wig koek gelyk met ’n hoë regaf agterkant wat skerp in ‘n plat neus voor geëindig het en het soos eier in die gesig van Stuttgardt se ringkoppe ontplof toe ‘n joernalis die buksie op ‘n renbaan tydens die mediabekendstelling gerol het.
Mercedes het egter die internasionale verleentheid in ‘n geleentheid omskep, deur met etlike baanbrekervernuwings in die verbeterde model na vore te tree.

Verskeie kosmetiese veranderings het oor die jare gevolg totdat die derde generasie in 2012 verskyn het.
Weg was die wigvormige-winkeltrollieoumakarretjie-voorkoms en die nuwe sportief-moderne ontwerp het die grondslag gelê vir die A-Klas se suksesverhaal sedertdien met wêreldwye verkope van bykans ses miljoen eenhede.

Die ferm veerstelsel en effe harde rit het egter kritiek ontlok, maar hantering en voorkoms het die verkope onder ‘n jonger generasie, wie die status van ‘n Duitse luukse handelsnaam voorop stel, laat opvlam.
Met die 2019-model het Mercedes opnuut vernuwing en ‘n moderne ontwerp nagejaag. Die jongste A-Klas ry ook nou met nuwegeslagenjins en is propvol tegnologie gelaai.

En ja, die nuweling ry verreweg beter danksy verbeterde en verstelbare vering. Wat voorkoms betref, vertoon die 2019 A-Klas veel moderner as die uitgaande model.
Die ontwerpers se stileringsfi losofi e van “sensuele suiwerheid” kan gesien word in die vloeiende lyne en ronder hoeke. Die neus neig steeds skuins grond toe, maar die sierrooster is nou regop geplaas vir ‘n varser eietydse voorkoms.

Die groot drie-puntster in die middel van ‘n nuwe sierroosterontwerp vertoon meer statig, terwyl die nuwe hoofl igontwerp wat skrefi esoog na agter swiep, bydra tot die nuweling se visuele trefkrag.
Die sportiewe voorkoms van die nuwe A-Klas word beklemtoon met die voorvenster en daklyn wat skuins na agter val asook die groter uitgeboude wielboë om die tot 19 duim-wiele te kan akkommodeer.

Die resultaat is ‘n segmentleidende sleursyfer van 0,25 wat laer is as dié van ‘n fi etsryer en sy fiets! Stuttgardt het dit egter reggekry om die nuweling ook groter (120mm langer, 16mm hoër en 6mm wyer), maar tog 20kg ligter as sy voorganger te maak.
Die gevolg is meer beenruimte vir die insittendes asook 29 liter meer pakplek in die bagasieruim.

Van agter beskou is die ontwerp myns insiens minder treffend, selfs met die nuwe 2-deel agterligontwerp. Die verrassing is egter in die kajuit.
Mercedes het dit reggekry om ‘n mengsel van weelde, sportiwiteit en ‘n moderne voorkoms te vermeng tot n klasleidende eindproduk wat myns insiens baie kopers sal geval.

Veral die knoppiebelaaide stuurwiel wat net so uit die vlagskip S-Klas na die A-Klas oorgedra is, bied baie waarde.
Ook die R10 000 opsionele ekstrabreë raakskerm wat, soos by die veel duurder S- en E-Klasmodelle, van die middel van die voorpaneel soomloos strek tot agter die stuurwiel waar dit ook die toereteller spoedmeter en ander instrumentasie inkorporeer.
Maar dit is het einde niet!
Mercedes se nuwe MBUX multimediastelsel wat standaard in die A-Klas is, kom met n innoverende gebruikersvriendelike, maklik aanpasbare stemaktivering wat die nuweling bo sy mededingers laat uitstyg.

Hierdie stelsel, danksy die hulp en spoed van 4G, laat jou toe om op ‘n natuurlike manier met die rekenaar te praat waarna die opdragte (wel, ek moet erken daar was ‘n probleem toe ek probeer het om die stelsel sover te kry om boeremusiek te speel) onmiddellik uitgevoer word.
Die lugversorging, sondak, tipe musiek, roetes ensovoorts, kan met hierdie stelsel beheer word en hierdie “kunsmatige intelligensie” leer jou stem en uitspraak al beter ken hoe meer jy dit gebruik.

Die stelsel bou ook ‘n geheue op van jou voorkeure met musiek, padroetes, telefoonkontakte, en so meer.
Verbasend is ook dat die stelsel selfs voorstelle kan maak, byvoorbeeld as jy nie na jou gewone stasie luister nie, sal die stelsel vra of jy nie dalk wil oorskakel na jou gereelde sender nie.

Of oor die tipe musiek, of selfs jou gunstelingrestaurant of -koffi ewinkel! Uiteraard sal die stelsel via Mercedes eers jou toestemming vra om jou persoonlike inligting en data te mag gebruik.
