Dit was weer tyd om lyne nat te maak vir Kwena Bonanza
Die gewildheid van hierdie kompetisie wat deur die Longtom-hengelklub aangebied word, neem jaarliks toe.

Vanjaar se Kwena Bonanza-hengel-kompetisie wat by die Kwenadam plaasgevind het, het 130 hengelaars gelok wat ten spyte van ‘n geniepsige koue die viswaters aangedurf het.
Hengelaars het reeds Vrydag by die dam saamgetrek met die hoogtepunt Sondag toe die wenners aangewys is. Die vis het volgens hengelaars met wie die koerant gepraat het, nie deur die dag veel gebyt nie, maar snags was die vangste beter.
Volgens Jaco Beyneveldt, organiseerder van die bonanza, word die volgende Kwena Bonanza vir 2 tot 3 November volgende jaar beplan.
Die wenner van die bonanza met ‘n prysgeld van R5 000, was Werner Janse van Rensburg met ‘n karp van 2,855 kg wat hy uitgetrek het.
Ander uitslae:
• LJ de Jager – grootste barber van 9,965 kg
• Melanie de Jager – grootste kurper van
0,250 kg
• Doppies Burger – grootste baars van
3,465 kg.