Rob se matrieks beloon vir harde werk
Brandon Borcher en Chantè Gouws is hoofseun en -dogter.

Tydens Hoërskool Rob Ferreira se prestige-aand op Donderdag 25 Oktober is meer as 1 400 toekennings, sertifikate en trofeë aan leerlinge oorhandig en hoofleiers vir volgende jaar aangekondig.
Brandon Borcher en Chantè Gouws is hoofseun en -dogter. Stiaan du Toit en Crystal Welthagen is onderhoofseun en -dogter (sport en sosiaal) en Tristan Barnes en Zantè Bensch onderhoofseun en -dogter (akademie en kultuur).
Teresa Camara is as duxleerling aangewys. Haar harde werk en gevolglike gemiddeld van 88,67 persent het haar die beste akademiese presteerder gemaak. Sy het ook die beste in drie vakke gevaar en het erekleure vir haar prestasie in die Afrikaans Olimpiade ontvang.
Zandri Strydom is die dogter met die hoogste prestasie in individuele sport. Sy het hierdie jaar uitsonderlik presteer in fietsry. Sy is die SA kampioen in die Downhill-kampioenskap en in die SA Xcountry Cup. Sy is ook die algehele wenner in die Mpumalanga-skolekampioenskap. Sy was eerste in die interprovinsiale kampioenskap en verteenwoordig SA in Switserland as junior Springbok waar sy 24ste eindig.
Junior Mondlane is die seun wat die hoogste prestasie in individuele sport behaal het. Hy het ‘n derde plek op die Laeveldse interhoërbyeenkoms behaal; tweede en derde plekke by die Mpumalanga-kampioenskap; ‘n eerste plek in die the 4 x 100 m-aflos, tweede plek vir verspring en derde plek vir driesprong by die Suid-Afrikaanse kampioenskap.
CJ Bekker is vereer vir sy sportprestasie op internasionale vlak nadat hy ‘n vierde plek op die SA Gym Games vir trampolien behaal het. Hy is gekies om Suid-Afrika in Denemarke te gaan verteenwoordig en neem deel aan die Hans Christiaan Anderson City Games waar hy ‘n bronsmedalje verwerf. Daar het ses lande deelgeneem: Denemarke, SA, Frankryk, Engeland, België en Swede.
Matsepo Mnisi ontvang die Nelia Haasbroek-wisseltrofee as sportdogter van die jaar. Sy was vir vyf jaar in die interhoëratletiekspan en het verskeie medaljes in die 400 m en 400 m-hekkies behaal. In die Mpumalanga-kampioenskappe het sy ‘n tweede plek in die 400 m en derde plek in die 400 m-hekkies gekry. Sy het ook gereeld in haar ouderdomsgroep se A-spanne en eerste span netbal gespeel en was in 2018 lid van Mpumalanga se o/18-netbalspan.
Jordan and Mathew Prinsloo deel die Danie Rossouw-wisseltrofee as sportseuns van die jaar. Die tweeling het aan dieselfde sportkodes deelgeneem en albei ewe goed presteer. Hulle was lede van die skool se interhoërspan sedert gr. 8 en het eerste span hokkie en krieket gespeel. Albei het ook vanjaar vir Mpumalanga hokkie gespeel.
Anke Willers het die kultuurwisseltrofee verdien deur aan die grootste verskeidenheid kultuuraktiwiteite deel te neem en te presteer. Anke is ‘n kranige redenaar en het aan skool-, ATKV en Radikale Redenaars deelgeneem. Met die interne redenaars was sy tweede en met Radikale Redenaars het sy op nasionale vlak deelgeneem. By die eisteddfod het sy twee opeenvolgende jaar A++ simbole behaal. Sy het ook deelgeneem aan die Wêreldkennis- en Afrikaans olimpiades.
Lianè Stoop het die dienstoekenning gekry as matriekleerder wat deur sy/haar hoërskooljare deurlopend onbaatsugtige diens gelewer het. Lianè het vir vyf jaar as kriekettellinghouer opgetree en vanaf gr. 10 as hokkieskeidsregter by junior spanne se wedstryde en ook by laerskoolwedstryde opgetree. Lianè het by verskeie sportweke as chaperone opgetree en was altyd gewillig om by funksies van die skool hulp te verleen.
Anke Willers het ook die Omnia-toekenning huis toe geneem. Hierdie toekenning word aan die leerling met die beste prestasies op sport-, kultuur- en akademiese gebied gegee. Anke was ‘n baie goeie voorbeeld van gebalanseerde deelname by die skool. Sy het aan olimpiades, die eisteddfod en redenaars deelgeneem, vir die eerste netbalspan gespeel en ook op akademiese gebied goed presteer.










