Local newsNews

Leeu se kind kry nie vir Akita onder nie

Eers moes Akita met 'n koedoebul kragte meet en nou het sy Koning Leeu homself moes konfronteer.

SKUKUZA – Sterk, edel, intimiderend, maar lojaal. Ook vreesloos, onverskrokke en g’n bang vir enige uitdaging nie.

So word die honderas waarna Akita, ‘n lid van die honde-eenheid in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), vernoem is, beskryf.

Soos haar naamgenote oorspronklik koninklikes en feodale adellikes in Japan bewaak het, dra hierdie Malinois-hond vandag die kosbare wildtuinrenosters se belange op die hart.

Haar interaksie met die koninklikes van die park is egter meer troebel van aard. Eers het Akita (toe sewe jaar oud) verlede jaar in Maart tydens patrollie in Letaba met ‘n statige koedoebul kragte gemeet en enkele weke gelede het sy Koning Leeu homself moes konfronteer.

Johan de Beer, die bestuurder van die NKW se K9-eenheid, vertel dat hulle die honde oudergewoonte op ‘n Sondagoggend vir ‘n oefensessie veld toe geneem het. In ‘n stadium het Akita tussen omliggende bosse gaan rondsnuffel, min wetende dat ‘n leeu hom daar skuilhou.

Die leeu het glad nie van dié onverwagte besoeker gehou nie en haar aangeval. Dit blyk dat Akita op haar beurt ook nie met die leeu se ongasvrye houding beïndruk was nie en terugbaklei het.

Gelukkig het die koning van die bos haar laat los en kon die hondehanteerders haar vinnig te hulp snel.

“Akita 0, leeu 1” het De Beer die insident op die eenheid se Facebook-bladsy aangekondig en sy waardering teenoor die Laeveldse ereveldwagters en dr. Gert Scheepers van Phalaborwa, wat haar behandel het, uitgespreek.

Almal is sedertdien verbaas oor die spoed en wilskrag waarmee Akita van haar ernstige wonde herstel.

De Beer het Woensdag bevestig dat sy reeds weer terug in die tuig is en dat sy van volgende week af weer haar plek heeltemal sal volstaan in die stryd teen renosterstropers.

Laevelder het in Maart 2017 berig hoedat Akita op stropers se spoor voor die res van die span uitgedraf het toe ‘n koedoebul haar gestorm en deeglik met sy horings gegaffel het. Hy het wel later bes gegee en weggehardloop, maar Akita se bors was vir ‘n paar sentimeter oopgeskeur.

Lees hier meer oor daardie insident.

Paramedikus Jaco Gerritse besig om Akita te behandel toe sy verlede jaar tydens patrollie deur ‘n koedoebul gegaffel is.

Danksy vinnige optrede deur Letaba se streeksveldwagter Andrew Desmet is paramedici van Phalaborwa ontbied en het ‘n helikopter haar na Mbombela gevlieg.

Sy het toe by die West Acres Dierehospitaal aangesterk voordat sy na die K9-eenheid in die wildtuin teruggeneem is.

Oor die moontlikheid dat Akita en haar medewerkers weer aan so ‘n situasie blootgestel kan word, is De Beer heel filosofies.

“Ons weet mos ons werk in ‘n wildtuin en dat daar leeus en ander wilde diere agter elke bos kan skuil,” lag hy. “Akita is egter vir ons almal ‘n voorbeeld en ons gaan voort om alles in ons vermoë te doen om ons renosters te beskerm.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button