Local newsNews

Stoere boer en bittereinder laat groot leemte in Laeveld

Piet van Dyk, bekende boer en besigheidsman is Dinsdagoggend na 'n kort siekbed in sy slaap oorlede.

Oom Piet het diep spore in die Laeveldse Onderberg en Suid-Afrikaanse landbousektor getrap – nie net as boer nie, maar ook as skerpsinnige, suksesvolle besigheidsman.

Hy was imposant en goed ingelig en het ‘n geheue soos ‘n olifant gehad. In ‘n interessante onderhoud met Get it Lowveld vroeër vanjaar het hy gesels oor die Van Dyk-familie se ryk geskiedenis: Die familie is sedert 1691 in Suid-Afrika en sy oupa, Rooi-Piet van Dyk, het in die Anglo-Boereoorlog geveg.

Rooi-Piet was ‘n bittereinder en het tot aan die einde van die oorlog nog geglo dat die guerrilla-oorlogvoering die Britte op die laaste minuut sal dwing om Suid-Afrika in vrede te laat.

Hy het later in protes teen die Britse regering met sy gesin in Duits-Oos-Afrika gaan woon waar Oom Piet in 1929 in Kenia gebore is.In ‘n sekere sin was Oom Piet, net soos sy oupa, ook ‘n bittereinder.

Hoewel hy afgetree en afgeskaal het, was hy op die ryp ouderdom van 89 steeds in ‘n raadgewende hoedanigheid by die familiebesigheid betrokke.

Kort voor sy dood het hy ook nog saam met sy seuns in Mosambiek gaan visvang. Hy het nou wel nie meer self gehengel nie, maar het sy boot bestuur en die aas voorberei.

Oom Piet laat sy lewenslange eggenote, Beatrice, vyf kinders en vier skoonkinders, 15 kleinkinders en 13 agterkleinkinders agter.

Hy word reeds deur sy twee broers, vier susters asook ‘n magdom vriende, familielede en ‘n gemeenskap wat vir hom die grootste respek gehad het, gemis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button