MBOMBELA – Só sê Hildegardt Nieuwoudt oor haar klein sonstraaltjie Zanri wat in 2016 met neuromuskulêre steuring gediagnoseer is.
“‘n Kind kan nie altyd borrelend wees nie, maar ek weet nie meer wat om te doen om haar beter te laat voel nie.”
Na ‘n lumbale punksie, spierbiopsies, operasies en hoeveel MRB-skanderings later kan die oorsaak van die steuring nog nie vasgestel word nie.
Dié 12-jarige Zanri is nes die meeste klein dogtertjies, gek oor ballet.

Tot en met vier maande gelede was sy nog in ‘n rystoel. Deesdae kan sy al so te sê sonder krukke loop en drie keer ‘n week weer begin om te dans.
“Sy was lanklaas by die balletsaal. Sy was nog te siek gewees. Sy is gedurig naar en kla oor hoofpyn.
Haar gesiggie is so wit soos ‘n spook as sy in die oggende haar ogies oopmaak.”
Klein Zanri maak haar mamma snags wakker wanneer sy krul van spier-, hoof- en maagpyn.
“Die oggende is die ergste. Sy begin eers laatmiddag beter voel en dan lê die nag weer voor. Dit was nie altyd so erg nie, maar deesdae maak sy my elke aand wakker. Ek gee maar ‘n pynpil as ek kan. Dit is nou as sy nie voor sy in haar bed klim reeds ‘n pil gedrink het nie. Ek is maar streng op die pille. Ek sê maar gewoonlik sy moet ‘n glas water drink en rustig word en probeer om aan die slaap te raak. Ek kan nie veel meer doen nie.”
Die nodige medisyne en fisioterapie kos die Nieuwoudts ongeveer R5 000 ‘n maand en dit sluit nie die toetse in wat gedoen moet word om hopelik vas te stel wat presies fout is met Zanri en weer ‘n glimlag op haar gesiggie te kan sit nie.
‘n Bedrag van oor die R30 000 is uitstaande wat die gesin moet afbetaal.
‘n Trustfonds is vir Zanri geskep wat Laevelders in staat stel om die las op die familie se skouers effens te verlig.
Trustrekeningnommer: 62759062153
Bank: FNB
Tak: Nelspruit Pinnacle
Takkode: 250655.
