Vrolike Kersverhaal vir een dag op die planke
'n Kersfees Katastrofe word deur die bekende akteurs Francois Jacobs, Adriaan van As en Mila Guy, wat almal self Laeveldse wortels het, op die planke gebring.

MBOMBELA – ‘n Unieke Kerskonsert vir jong kinders is vanjaar net die manier om die feesseisoen in te lui.
In ‘n Kersfees Katastrofe sit Kersvader met sy hande in die hare want Kersmoeder dring aan op ‘n vakansie omdat sy elke liewe Kerstyd by die huis moet sit. Maar wie op aarde gaan dan geskenke by al die soet kinders aflewer?
SIEN OOK: Plaaslike rolprentster as fliek-akteur van die jaar bekroon
Kersvader besluit om Eddie die Elf se hulp in te roep. Eddie is egter omgekrap toe hy agterkom hy moet die taak aanpak saam met die Goeie Feetjie, persoonlike assistent van die koning.
Hy beraam allerhande planne saam met die Rooi Heks om die Goeie Feetjie te uitoorlê. Maar ai, Eddie weet nie die Rooi Heks wil eintlik Kersfees sommer heeltemal kanselleer nie. Hoe gaan die penarie opgelos word?
Die Verlore Kousie Produksies, ondersteun deur Innibos, wil met ‘n Kersfees Katastrofe kinders van alle ouderdomme blootstelling gee aan teater en hulle op ‘n ligte trant meer leer oor onder andere mededeelsaamheid, samewerking, aanvaarding van ander, en sommer oor teateretiket op die koop toe.
‘n Kersfees Katastrofe word Woensdag 5 Desember in die Communio Kerk in Jacarandalaan se ouditorium opgevoer.
Vertonings is om 10:00, 15:00 en 18:30.
Of jy nou 4 of 84 is, hierdie kersfees-storie gaan jou betower!
Kaartjies kos R50 en is by Computicket of die deur te koop. Skakel 013-741-5294 vir enige navrae.
Kliek sommer hier om direk jou kaartjies te bespreek!
SIEN OOK: Dansers bekoor gehoor by vanjaar se Eisteddfod
