Smul aan topgehalte slakke en sushi by Cicada
Cicada by Sonpark kan sonder vrees vir teëspraak bestempel word as die voorste eetplek vir sushi in die Laeveld.

Oor die afgelope 10 jaar sedert die sushi-gier hier posgevat het, het ander al gekom en gegaan. Cicada het gebly en selfs een of twee sushi-style en -stukkies eie aan die plek, gevestig soos onder meer die biltong- en maaskaas-maki.
Bestellings en terme soos maki, sashimi, nigiri of self salmrose was 10 jaar gelede nog heel onbekend hier in ons streek, ofskoon plaaslike sushiliefhebbers dit deesdae aframmel met dieselfde gemak as om ‘n biefstuk volgens smaak in ‘n braairestaurant te bestel.

In die Laeveld was dit juis Garth Snyman by Cicada en Carl van der Merwe met Fez by Bagdad – en ook ‘n paar ander – wat destyds die voortou geneem het om hierdie Japanese lekkernye onder die plaaslike uiteters te vestig.
Vroeër was dit iets wat net met besoeke aan Johannesburg geniet kon word.Die Laeveld Lekkerbekke, ‘n tafel-genootskap wat die afgelope jare so aansit by eetplekke in die omgewing, was onlangs by Cicada om Snyman se beste te proe.

Sushi het eeue gelede sy ontstaan gehad in Suidoos-Asië waar vars vis in rys toegedraai is om te fermenteer en langer te hou.
Later is Japanese ryswyn of saki gebruik om die proses te verbeter. Eers 10 eeue later is asyn bygevoeg om te help met die fermentasieproses en eers in die 1820’s – sowat 200 jaar gelede – het kokke begin om vars vis te gebruik soos met die sushi wat ons vandag ken.

Vir lank was dit ‘n gereg wat as happie-grootte op straat gemaak en verkoop is. Die kundigheid en behoefte aan higiëne wat na die Tweede Wêreldoorlog gevolg het, het gelei tot binnenshuise voorbereiding en bediening – ofskoon die bytgrootte happies behou is.
Eers oor die afgelope 20 jaar het sushi as ‘n gesonde manier van eet onder die Amerikaners en toe wêreldwyd posgevat.

Rolletjies gemaak met komkommer en ander groente en vulsels het in hierdie tyd sy beslag gekry.Cicada is ook bekend vir sy interessante voorgeregte.
Legendariesegeregtesoosbiltongsigare, Camembertsamoesas en slakke met cheddarkaas en spek. Slakke was vooreen iets wat gereeld in Suid-Afrika op spyskaarte verskyn het, maar met die wêreldwye tekort deesdae sien ‘n mens dit al hoe minder.

Nietemin verorber ons steeds goed 400 ton slakke per jaar wat meestal uit die Ooste ingevoer word.
So moet Frankryk ook omtrent meer as die helfte van sy gebruik invoer en is slakboerderey nou besig om weer op te skiet in warmer klimaatstreke – soos ook hier by ons.
Bedien met die ete was wyne uit die Durbanville Hills-kelder. Die gewilde reeks gehaltewyn is bo aan die lys hier by Cicada.

As Merlot-drinker is Durbanville Hills s’n juis my gunsteling.Die Lekkerbekke is vooraf bederf met Durbanville Hills se nuwe ligte droeë waarna Sauvignon Blanc en Cabertnet Sauvignon met die kos gevolg het.
Gedagtig aan die smaakverskeidenheid van sushi – en ook hoe sterk jy die kruiderij, soos die Hollanders sê, maak, is die keuse joune om dit met ‘n wit- of ‘n rooiwyn te geniet.
Die sojasous, gemmer of wasabi hier is soos die sushi, van uitstekende gehalte. Soos in die verlede sal jy my ook in die toekoms, gereeld op Cicada se dek aantref.
