Geloof en bystand dra stappers vir 718 km van SA se weste na ooste
Stapvoos, maar met 21 dae en 718 km se uitsonderlike ervarings het Hendré Papenfus, Henning Buitendag en hulle span op 30 Desember by die Lebombo-grenspos aangekom.
KOMATIPOORT – Hendré Papenfus en Henning Buitendag het by die Lebombo-grenspos op 30 Desember met die laaste paar treë van die staptog ter bewusmaking van plaasmoorde en -aanvalle die dwarsbalk van ‘n geestelike kruis regoor Suid-Afrika voltooi.
Hendré en sy medestappers het in 2017 die Warrior Walk vanaf Musina tot in die Kaap gedoen en ‘n totaal van 2 478 km in 84 dae afgelê. Hulle het so bewustheid van geweld bevorder en geld ingesamel om slagoffers daarvan by te staan.
Die Warrior Walk 2018 het onder die vaandel van ToekomsVonk, ‘n burgerregteorganisasie, geskied en op 10 Desember by Botswana se Skilpadshek-grenspos weggespring.
LEES: Staptog van 718 km vir plaasaanvalle gaan in Komati eindig
Hendré en Henning het sowat 35 km per dag gestap en in ‘n persverklaring ‘n paar dae ná hulle weggespring het, het Handré genoem hoe uitdagend die stap was.
“Wanneer ek moeg en seer is, herinner ek egter myself aan die rede van hierdie uitdaging – die boer en sy gesin. Ons sal hierdie staptog voltooi met die vertroue dat daar duisende mense sal wees wat ‘n donasie maak sodat ons plase kan help beveilig, maar ook die las so ‘n bietjie ligter maak vir die oorlewendes na so verskriklike brutale aanval.”
Op 28 Desember het hulle in reënweer vanaf Mbombela na Malalane gestap, ‘n genadige blaaskansie van die tipiese Laeveld-hitte.
Na hul nagrus in Malalane, het hulle aangestap op die N4 na Marlothpark, voordat hulle op 30 Desember om 07:25 die kruis by die Lebombo-grenspos voltooi het.

Henriëtte, Hendré se vrou, het een van die ondersteuningsvoertuie bestuur en sê dat hulle baie ondersteuning in die Onderberg gehad het. Mense het getoet en soms saamgestap. Ronnie Pieters van Witbank was op pad na Marlothpark en het sewe kilomter saamgestap en daarna vir almal koffie gebring.

In ‘n Facebook-plasing op 30 Desember het Henriëtte geskryf: “Ek stap met durf die nuwe jaar in. Deur om te gee het ons ontvang. Dis hoe God se wiskunde werk. Waar Hy minus, word daar eintlik geplus. Jy word minder sodat Hy meer kan word. Wanneer jy dink jy gee weg, word daar eintlik vir jou toegevoeg.”
Sy het vir 32 km saamgestap en sê dat dit werklik groot deursettingsvermoë kos.
Die moeilikste van die reis was vroeg opstaan (03:30) vanaf dag twee aangesien hulle besef het dat die hitte later in die dag baie erg is. Benewens die weer het hulle ook met blase en spierpyn geworstel.
Die lekkerste deel van die reis was om Schoemanskloof te stap en hulle aan die natuurprag te verwonder.
Henriëtte vertel dat die meeste rommel wat hulle langs die N4 teëgekom het, drankbottels was. Hulle het ook hordes oorlaaide waentjies en bakkies veral in die vroeë oggendure teëgekom. Hulle moes ook wakker wees aangesien die stappers en bakkies wat teen vyf kilometer per uur beweeg, ‘n teiken vir boewe is.
LEES: TRAC warns against overloading vehicles
Die Laeveld en Onderberg se natuurskoon en die pragtige plase het hulle stomgeslaan. “Ons het respek vir ons boere en ‘n liefde ongekend, spesifiek omdat hulle so onder druk verkeer,” meen sy.
Hulle was egter teleurgesteld met al die rommel wat rondom die grenspos gestrooi lê.
Gelukkig kon hulle na afloop van die reis, na drie dae se duim vashou die Nasionale Krugerwildtuin besoek. En dit was voorwaar vir die diereliefhebbers ‘n beloning.
Die stappers het almal bedank wat saamgestap het, die ToekomsVonk- en ondersteuningspan, borge, mense wat toeter gedruk of blad geskud het, op Facebook hulle steun gewys of donasies aan ToekomsVonk gemaak het.
Om meer inligting en foto’s van die staptog te kry, besoek ToekomsVonk se Facebookblad of loer na die organisasie se projekte op www.toekomsvonk.co.za.
