WVF se geslote kantore laat die bloed kook
'n Skynbaar ondeurdagte besluit van die Department van Arbeid om hulle werkloosheidsversekeringsfondskantoor (WVF) in die dorp te sluit terwyl hulle verbeterings aanbring, het talle eisers die josie in.

Die kantoor wat in Brownstraat geleë is, is al sedert November toe. Eisers wat daar gaan aanklop om eise in te dien, is na die kantore in Witrivier en Barberton verwys.
Ten spyte daarvan dat Theboho Thenjane, woordvoerder van die department telefonies aan Laevelder gesê het die Mbombela-kantoor is sedert Maandag weer oop, is daar ontdek dat die nie heeltemal waar is nie.
Die kantoor ontvang tans net eise vir beserings aan diens. Twee sekuriteitswagte by die deur neem dié vorms in ontvangs.

“Ek het verlede jaar in Oktober my WVF-eis by die dorp se kantoor ingedien. Ek is gevra om na ‘n week of wat weer ‘n draai te gaan maak.
Na twee maande is die eerste eis uitbetaal,” vertel Adri Smit. Sy is werkloos nadat sy verlede jaar die slagoffer van ‘n aflegging by haar maatskappy was.
Toe sy weer by die kantoor aankom, is sy weggewys. “Ek het verlede Vrydag al die pad Barberton toe gery om my eis daar te gaan indien, net om voor dooiemansdeur te kom,” mor sy. Die kantoor is op Vrydag 15 Februarie gesluit omdat die kragrekening nie betaal is nie.
ALSO READ: WARNING: Momo challenge promotes suicide in young children
“In daardie stadium was daar talle mense wat in toue gestaan het met die hoop om gehelp te word,” sê Smit. Sy is Maandag weer deur Barberton toe, maar die kantoor is steeds gesluit. Daar is ‘n kennisgewing op die deur om mense van die probleem in te lig.
Met haar besoek het ‘n vrou met ‘n baba op die heup voor die kantoor gestaan. Karen Hoyer, wat ook sedert verlede jaar werkloos is, het in Desember dieselfde problem by die Mbombela-kantoor ondervind.
“Ek is in Januarie deur Barberton toe en het uitstekende diens gekry. Binne 15 minute was my aansoek op die rekenaar ingevoer.”
Wat haar egter bekommer is mense wat nie bevoorreg is om van Mbombela na Witrivier of Barberton te reis nie. “Baie van die mense is afhanklik van die geld om te oorleef.
“Hoe kan daar van ‘n ma met haar baba verwag word om in ‘n taxi te klim omdat Mbombela eenvoudig hulle deur gesluit het?” Ook Chris de Villiers, ‘n werklose Laevelder het verlede week Barberton toe gery om vorms te onderteken, net om te hoor die krag is af.
“Soos dit is, is die geld skraps en nou mors ek die bietjie wat ek het net om nie geholpe te raak nie.” Gister (Donderdag) was die Barberton-kantoor steeds gesluit.
ALSO READ: Annual toll gate increase and fuel hike taking effect March 2019
Thenjane sê hulle moes noodgedwonge die hoofstad se kantoor sluit nadat die gebou as ongeskik verklaar is vir gebruik deur hulle personeel. Hy kon nie sê wanneer die opknapping voltooi gaan wees nie.
Vrae oor Barberton se krag is na die Department van Openbare Werke verwys.
