Terminale kankerlyer wil lewe ten volle geniet
MBOMBELA – “Wanneer die lewe tot ‘n einde kom, wil ek seker wees sy het alles gedoen wat sy geniet, en alles geniet wat sy gedoen het.” Só lui die woorde van ‘n plaaslike vrou wat haar hartsvriendin, ‘n enkelma van ‘n 15-jarige, se laaste oomblike op aarde ‘n belewenis wil maak, “voordat sy self …

MBOMBELA – “Wanneer die lewe tot ‘n einde kom, wil ek seker wees sy het alles gedoen wat sy geniet, en alles geniet wat sy gedoen het.”
Só lui die woorde van ‘n plaaslike vrou wat haar hartsvriendin, ‘n enkelma van ‘n 15-jarige, se laaste oomblike op aarde ‘n belewenis wil maak, “voordat sy self ‘n engel word”.
Carmen Brown is in 2014 met fase drie kanker gediagnoseer en haar toestand vererger op ‘n daaglikse basis. Die kanker het egter in dié jaar verminder, maar haar mees onlangse Facebook-inskrywing het haar vriendin Sarah Carmichael genoeg rede tot kommer gegee.

“Ek was by die dokter en die kanker het versprei – daar is niks wat hulle vir my kan doen nie. Wie weet wat die dag van more inhou?”
In plaas daarvan om in ‘n proses van rou gedompel te word, het Carmichael besluit om haar laaste oomblikke te vier deur haar sogenaamde bucket list te laat realiseer.

Sy het na sosiale media gewend en binne minute het byna 200 mense op die inskrywing reageer, en aangebied om items op die lys te behartig.
Haar lys is soos volg:
• Om ‘n regstreekse musiekkonsert te gaan kyk
• H²O of Splash
• Brugsprong
• Perdry op die strand
• Pretavonture saam met ten minste 10 vriende
• Sweefseil
• ‘n Road trip saam met ten minste 20 vriende
• Gold Reef City besoek
• Verfbaloorlogspel
• Gevorderde bestuurskursus
• Om ‘n sportsmotor te bestuur
• ‘n Motorfietssaamtrek
• Leer om ‘n kar te drift
• Familievakansie
• Piekniek op ‘n berg
• Dans onder die sterre saam met my seun
• ‘n Helikopterrit
• Om Suid-Afrika en Mosambiek te sien
• Leer my seun om te bestuur
• Besoek ten minste vyf verskillende plekke in Mosambiek
• Haarverlengings
• Swem saam met dolfyne
• Avontuursport
• Om te hokduik saam met haaie
• Snorkelduik
• ‘n Dag by Badplaas saam met my vriendinne
• Kaas en wyn saam met vriendinne
• ‘n Oorsese reis
• Niagra Falls
• ‘n Heerlike aansitete
• ‘n Naweek weg saam met my beste vriendin
• ‘n Fotosessie saam met vriende en familie
• Kry bypassende tattoeërmerke.
