Local newsNews

Bejaardes skop die jaar met bos-uitstappie af

Guardian Angels se vrywilligers en bejaardes van Marloth Park en Malalane het op 21 Februarie by die Tin Shack-restaurant gesels oor watter pret en opwinding dìe jaar alles vir hulle inhou.

MARLOTHPARK – Vrywilligers van Guardian Angels Malelane het op 21 Februarie in hul kenmerkende pienk hempies perfek by hul eerste byeenkoms se Valentynstema gepas.

Die jaar se afskopkuier is deur Marlothi Shopping Centre en die Tin Shack-restaurant aangebied en gaste het die pragtige dekor en “bos”-uitstappie baie geniet.

Die vrywilligers en die bejaardes onder hulle sorg het na ‘n drie maande ruskans heelwat nuus gehad om op te vang en het baie gesellig saamgekuier.

Die byeenkoms is met Die Boodskap se vertaling van 1 Korintiërs 13 geopen en elke gas het ‘n gehekelde groen kruisie gekry om teen hulle badkamerspieël vas te plak. Dit poog om hulle te herinner om ook liefde aan ander te bewys.

Die Guardian Angels se vrywilligers is weer eens aan almal voorgestel en seniors kon ook voorstelle vir kuiergeleenthede vir 2019 indien. Verlede jaar het die groep onder meer geleer rolbal speel, ‘n paaseierskattejag gehou en die Nasionale Krugerwildtuin besoek.

Hulle het saam aan herderspastei en malvapoeding gesmul en die kelners het vir vriendelike en flink diens gesorg.

Marlothi Shopping Centre hoop om met etes soos dié bejaardes in die omgewing by te staan.

LEES: Community joins hands to spoil Marloth’s elderly for Christmas

Die Guardian Angels is ‘n paar jaar gelede gestig om bejaardes wat op hulle eie bly, by te staan. Vrywilligers neem bejaardes onder hulle vlerke en gaan kuier gereeld by hulle of help om hulle na die winkels of doktersafsprake te neem as hulle nie self kan bestuur nie.

Een keer ‘n maand is daar ook samekomste waar die groep saamkuier, ‘n inligtingsessie oor ‘n interessante onderwerp geniet, saam eet en soms saam speel ook. Verskeie gemeenskapslede, besighede en organisasies dra by tot die byeenkomste of bied dit aan.

LEES: Seniors hou sommer al vroeg Kersfees saam met Guardian Angels

Joey Boven van JSL Transport is een van die Guardian Angels se ondersteuners en het tydens die byeenkoms een van haar bussies beskikbaar gestel om bejaardes na die maandelikse byeenkomste te vervoer. Die Guardian Angels was baie dankbaar aangesien dit beteken dat meer van hulle lede, veral die Marlothparkers, gereeld die byeenkomste sal kan bywoon.

Daar is ook ‘n hele paar bejaardes wat graag JSL Transport se Namakwaland Blommetoer in Augustus wil bywoon, maar nie die nodige fondse het nie. Mense wat graag ‘n bejaarde sal wil borg kan Eva Bruce, die Guardian Angels se voorsitter, by 082-538-0276 skakel.

Vrywilligers wat by die Guardian Angels wil aansluit, kan ook vir Bruce skakel. Hulle vergader elke eerste Maandag van die maand om 12:00 by die NG Kerk Malelane.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button