NinaVé sing en speel toneel al die pad na die VSA
Sy is uitgenooi om van 25 tot 30 Junie aan die internasionale ronde van Satch in die VSA te gaan deelneem.
MBOMBELA – Wanneer ‘n mens NinaVé ontmoet, besef jy dadelik jy is in die teenwoordigheid van iemand wat bereidwillig is om baie hard te werk om haar drome te bereik en beslis die nodige talent het om daar uit te kom.
Dié 17-jarige matriekleerling van Hoërskool Nelspruit, beter bekend as Nina van Eeden, droom daarvan om eendag haar drama- en sangtalent op televisie en die verhoog uit te leef.
“Ek moes my naam verander, want eendag wanneer ek my Oscar wen gaan hulle sukkel om my naam uit te spreek,”
vertel Nina laggend.

Hoewel sy reeds van kleins af ‘n liefde vir die uitvoerende kunste het, het dié gogga haar in gr. 8 behoorlik gebyt.
“Op laerskool was ek eintlik baie skaam, veral teenoor mense wat ek nie geken het nie. Toe ek op hoërskool kom het ek besluit dis nou of nooit.”
Sy het toe ‘n hoofrol in die gr. 8-konsert vertolk en het die prys vir beste aktrise ontvang.
“Dit was net ‘n sjokolade, maar daardie sjokolade was die hupstoot wat ek nodig gehad het.”
Daarna het sy ook aan Nellie Idols deelgeneem en hoewel sy nie gewen het nie, was die blootstelling daar vir haar van onskatbare waarde.
LEES OOK: Hope picnic in aid for cancer
In dieselfde jaar het sy sanglesse by haar mentor Natascha C begin neem en het ‘n jaar later ook met dramalesse by voormalige aktrise Annette Engelbrecht begin.

“Ek is baie hartseer dat sy nou oorsee is. Sy het my soveel kennis oor drama gegee,” sê Nina. Tans kry sy lesse by Frances van Niekerk.
In gr. 9 het sy aan haar heel eerste eisteddfod deelgeneem en die volgende jaar is sy gekies as deel van NHS se revuegroep waar sy drie solo’s gesing het.
Daardie jaar is sy ook deur die produksiespan aangewys as die beste solokunstenaar onder die dames – ‘n toekenning wat nie net gaan oor hoe mooi ‘n mens kan sing nie, maar ook jou positiewe houding en ingesteldheid teenoor die produksie.
In Oktober verlede jaar het Nina besluit om haar vlerkte te sprei en aan die South African Talent Championship (Satch) deel te neem.

Hiervoor moes sy ‘n video van 90 sekondes van ‘n dramastuk en ‘n sangstuk instuur as deel van haar eerste oudisie. Dié het sy met lof geslaag en het verlede Oktober gaan meeding in die nasionale ronde in Pretoria.
“Dit was ‘n baie goeie ondervinding. Ek het die geleentheid gehad om soveel ander talent te sien wat ons nie altyd in die Laeveld te siene kry nie. Dit was intimiderend, maar ek het dit baie geniet.”
Sy het goud vir beide haar items verwerf en is uitgenooi om van 25 tot 30 Junie aan die internasionale ronde in die VSA te gaan deelneem.
LEES OOK: Pumas op die verhoog te sien vir ‘n goeie doel
Hier gaan sy die geleentheid hê om een-tot-een-sessies met van die wêreld se mees gesogte talentsoekers en agente te hê, en ook om terug genooi te word vir opvolgoudisies wat vir haar deure in die industrie gaan kan oopmaak.

Nina wil graag eendag in die vermaaklikheidsbedryf werk en daarom is die geleentheid vir haar van onskatbare waarde.
Om fondse in te samel sing Nina saam met Natascha C Donderdagaand by Zweelo’s. Toegang beloop R50 per persoon en etes en ‘n kontankroeg is beskikbaar. Skakel Charnae op 083-822-8887 vir kaartjies.
Nina sal ook te sien wys by die CANSA Hope Picnic wat Vrydagaand by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin gehou word. Vir meer inligting of om bydraes te maak, gaan besoek gerus die NinaVé Facebook-blad.
