Local newsNews

Erica vier 100 jaar saam met vriende en familie

Dit was duidelik dat almal uit hul pad gegaan het om dié besondere mylpaal vir 'n ewe besondere persoon onvergeetlik te maak.

‘n Volle 100 jaar van positiwiteit, omgee vir familie en vriende, en dankbaarheid vir haar gesondheid en alles wat sy ervaar.

Dis min of meer wat Erica Rottcher op 26 Februarie vanjaar saam met ‘n paar familielede en haar nuwe vriende in Rustig Ouetehuis gevier het.

Sy is op dié dag spesiaal deur die plaaslike Care Buddies op ‘n partytjie getrakteer en deur familielede verras.

Dit was duidelik dat almal uit hul pad gegaan het om dié besondere mylpaal vir ‘n ewe besondere persoon onvergeetlik te maak.

Familielid Oskar Rottcher het vir haar ‘n stoel uit sy versameling, wat nog deur Erica se man gemaak was, gebring om op te sit en haar dogter Lynette Nel het ‘n spesiale blommekroon op haar kop geplaas voordat sy ‘n paar kersies (gelukkig darem nie ‘n volle 100 nie) kon doodblaas.

Haar vriende in die tehuis kon saamsmul aan kolwyntjies wat pikant versier was met afdrukke van ou foto’s uit haar verlede.

Dit was egter moeilik om te glo dat dié merkwaardige vrou, wat glad nie na die oudste in die tehuis gelyk het nie, werklik 100 jaar

oud geword het.

Sy het tot September verlede jaar nog alleen in haar eie duplekstuinhuis gewoon, waar sy daagliks die stel trappe na haar slaapkamer op die boonste verdieping kafgedraf het. “Sy het nog self gebak en brou en haar eie wasgoed gedoen en slegs een keer per week ‘n huishulp toegelaat om die plek te kom skoonmaak,” sê Nel.

“Sy het maar op die ouderdom van 96 eers werklik chroniese medikasie begin gebruik en geniet nog baie goeie gesondheid.”

Nel vertel dat haar ma op Vryheid in Natal as die derde kind van sewe grootgeword het. Hul ouers het van Duitsland soontoe geïmigreer.

Erica (nèe Meyer) het later aan die Johannesburg College of Education as huishoudkunde-onderwyser gekwalifiseer en toe in Durban gaan skoolhou.

Daar is sy met Kurt getroud en hulle het later vier kinders grootgemaak.

Nadat Kurt ‘n ontwerp vir besproeiingstoerusting gepatenteer het, het hulle in 1957 na die Laeveld gekom om dit hier aan boere te bemark.

Sy pa het toe reeds met lemoenwyn geëksperimenteer en na sy dood sy wynmakery aan Kurt se broer nagelaat.

Die proses het Erica se man egter ook geïnteresseer, met die gevolg dat hy kort voor lank sy eie lemoenwynmakery hier gevestig het – Rottcher Wineries, soos Laevelders dit al dekades lank ken.

Nel se woorde oor haar ma se positiwiteit is op haar verjaardag deur ds. Cecil Edwards van die plaaslike Metodiste Gemeente beaam.

“Sy is steeds geïnteresseerd in geskiedenis, politiek, daaglikse gebeure en nuus en het nog tot onlangs met ywer aan die Rottcher-familiestamboom nagevors en gewerk,” het hy vertel.

Al beweeg Erica moeilik en hoor sy ook nie te goed nie, lei sy steeds ‘n kwaliteitlewe.

“Sy lees nog graag en versorg haarself sonder hulp,” sê Nel. “En waag dit net om ‘n uitstappie of aktiwiteit voor te stel, dan is sy dadelik gereed en stem in sonder om twee keer te dink!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button