Local newsNews

Swanger vrou slaan haar man se bakkie flenters nadat sy hom glo met skelmpie betrap

'n Briesende swanger vrou het Sondag haar woede op haar man se Bantam-bakkie in 'n parkeerterrein in Sonpark uigehaal.

MBOMBELA – Wat presies tot die verwoestende optrede van die vrou aanleiding gegee het, is in hierdie stadium onduidelik. Maar wat dit ookal was, die man se bakkie het dit ontgeld.

Volgens personeel van ‘n nabygeleë restaurant, het die vrou ‘n ruk voor middagete skynbaar haar man betrap dat hy haar met ‘n skelmpie verneuk het. Hy het glo weggehardloop toe sy vrou hom gekonfronteer het.

Dit was skynbaar die sneller wat die vrou laat afgaan het en sy het toe maar haar frustrasie op die donkergrys bakkie uitgehaal.

LEES OOK: Swangerskap is nie kinderspeletjies nie

Eers het sy die bakkie se vensters met ‘n sementsteen stukkend geslaan. Daarna het haar wapen ook gesorg dat diep duike op die enjinkap agtergelaat is.

Hoe later hoe kwater. Sy het die bakkie se deur oopgemaak en in haar tirade die glasies van die paneelbord ook laat spat. Sy het toe sommer ook die drade onder die paneelbord uitgeruk.

Eenkant het ‘n paar mense en sekuriteitsbeamptes saamgedrom om die helleveeg te aanskou. In ‘n stadium het sy boonop een of ander poeieragtige stof in die voertuig se brandfstoftenk gegooi.

By sy aankoms vir middagete by die restaurant, het Heino Kruger, van die kabaal gehoor. Verskeie gaste het in daardie stadium oor die stoep se reling gehang om die petalje te aanskou.

“Sy het ‘n moersleutel uit ‘n gereedskapkassie gehaal en met diep hale die woorde “f**k you” op die enjinkap uitgekrap,” vertel Kruger.

“Ek het haar regtig jammer gekry en wou haar gaan haal en vir haar ‘n koeldrank koop. Maar my metgesel het gesê ek moenie inmeng nie.”

In daardie stadium het vriende of familie by die toneel opgedaag, die vrou gekalmeer en haar weggeneem.

LEES OOK: Dié pappa draai nie doekies om nie

Na ‘n ruk het die man uit die niet te voorskyn gekom. Hy het glo eers ‘n insleepdiens ontbied om sy voertuig weg te neem. Later het ‘n man met ‘n wit bakkie opgedaag en is die twee met die verwoeste bakkie op sleeptou daar weg.

Laevelder se pogings om die eienaar van die voertuig op te spoor, was onsuksesvol.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button