82-jarige bewys dat as jy gee sal jy ontvang
"Skielik kom daar toe 'n jong man by my en sê 'Nee, mammie. Jy is oud. Jy moet voor gaan staan'."

MBOMBELA – Wanneer ‘n mens goeie dinge doen, kom goeie dinge terug na jou en Amélie Bird is bewyse daarvan. Die 82-jarige ma van vyf, ouma van nege en oumagroot van vier glo dat daar nog baie goedheid in die mensdom oor is.
Hierdie goedheid het sy verlede Donderdag weer beleef toe sy om 07:00 by die verkeersdepartement opdaag om haar bestuurderslisensie te hernu.
“Toe ek daar aankom was die ry alreeds baie lank. Ek kan nie eintlik meer so lank staan nie, maar ek het toe maar ingeval want dit is iets wat ek moes doen,”
vertel Bird.
Sy het agter in die ry gaan staan.
“Skielik kom daar toe ‘n jong man by my en sê ‘Nee, mammie. Jy is oud. Jy moet voor gaan staan’.”
Hoe meer sy probeer het om protes aan te teken, hoe meer het die jong man wat sy slegs as Sam ken, daarop aangedring. Hy het haar na die begin van die ry vergesel en aan die persone wat daar gestaan het verduidelik dat sy voor hulle gehelp moet word.
Bird verduidelik dat so vinnig soos wat hy aangekom het, was hy weer weg.
LEES OOK: Bergvlam inspireer leerders om Wiskunde-liefhebbers te word
“Toe hy terugkom het hy egter ‘n opvoustoel uit sy kar gaan haal en dit vir my opgeslaan sodat ek kon sit. Daarna het hy geloop om met iemand besigheid te gaan doen.”
Bird het nooit sy kontakbesonderhede gekry nie en het sy stoel daar gelos aangesien sy hom nie kon opsoor om dit aan hom terug te besorg nie.
“Ek het so sleg gevoel want ek moes sy stoel net daar los. Ek wens ek kon vir hom dankie sê.”
Dit is egter nie die eerste keer dat so ‘n geluk Bird beval nie.
Sowat nege maande gelede het ‘n ander vreemdeling haar te hulp gesnel.
Bird was besig om van Johannesburg terug na Mbombela op die Schoemanskloofpad te ry toe ogiesdraad sonder haar wete aan die onderkant van haar kar vashak en agter die kar aansleep.
“”n Man het gejaag om tot langs my te kom en verduidelik dat ek moet aftrek. Toe ek afterk het hy onder my kar ingeklim en die draad uitgetrek. Hy het selfs vir my sy besigheidskaartjie gegee en gesê ek moet hom skakel as ek enige andere probleme ondervind.”
LEES OOK: Sonkragpompe is n baie aantreklike opsie vir boere
Bird is baie dankbaar vir alles wat sy ontvang, maar haar hart ken ook van gee.
Sy brei speelgoed vir minderbevoorregte kinders wat sy met behulp van Moving Mountains for Cancer Patients en die Moving Mountains for Cancer Patients versprei.
“Ek kon nog nooit verstaan nie en ek sal ook nooit verstaan waarom mense teen ander moet diskrimineer op grond van ras nie. Mense moet begin besef dat ons almal dieselfde is sodat meer wonderwerke soos wat met my gebeur het, kan gebeur.”
*Indien enigiemand enige inligting oor Sam het kan hulle Laevelder kontak by arisa@lowvelder.co.za.
