Local newsNews

Moving Mountains help plaaslike kankerpasiënte om berge te versit

Met behulp van Moving Mountains is verskeie Laeveldse kankerpasiënte se moeilike reis na remissie oor die laaste jaar aansienlik vergemaklik.

MALALANE – Onderberger Dedré van Graan het onlangs by Moving Mountains aangesluit as die gebied se verteenwoordiger en hoop om plaaslike kankerpasiënte se las te help verlig.

Moving Mountains is verlede jaar deur Izelle Pretorius in Mbombela gestig na haar eie ervaring met kanker.

Sy is in 2015 op 37-jarige ouderdom met fase 3-borskanker gediagnoseer en het ‘n mastektomie ondergaan. Sy het besluit om kanker te oorwin en ses maande na haar behandeling het sy die Ysterman 70,3 voltooi.

“Na my diagnose het kanker soos ‘n berg voor my gelyk. Vandag kyk ek terug en sien ‘n bultjie. Ek het besef dat ek nie een tree gevat het nie, maar dat God my heelpad gedra het. ‘n Mens kan seker sê dat die berg voor my geplaas is sodat ek ander kan wys dat dit geskuif kan word,” sê Pretorius. Hierdie siening is waar die maatskappy se naam vandaan kom.

LEES: Healthy Friday: Processed meat and cancer from a South African perspective

Moving Mountains samel fondse in om kankerpasiënte en hul families wat nie konvensionele kankerbehandeling kan bekostig nie, finansieel te ondersteun.

Hulle help ook pasiënte om verwante of ekstra bloedtoetse te ondergaan en help met vervoer- of verblyfkostes sodat hulle behandelingsessies kan bywoon.

Moving Mountains poog om pasiënte te onderrig en die gemeenskap daarvan bewus te maak dat ‘n gesonde leefstyl noodsaaklik is om kanker te voorkom en te beveg.

LEES: Israeli cure for cancer debunked by experts – like ‘selling unicorns’

Pretorius verduidelik dat Moving Mountains spesifiek individue identifiseer en ondersteun in hulle stryd met kanker.

Sedert die bekendstelling het hulle pasiente met vervoerkostes en aanvullings en MRI-skanderings bygestaan.

Een van hul Onderberg-begunstigdes was Thembi Mazufo (42) wat met servikale kanker gediagnoseer is. Sy het in Oktober terapie in Pretoria ondergaan en Moving Mountains het bygedra tot haar vervoer- en verblyfkostes.

Die organisasie is afhanklik van donasies en fondsinsamelingsprojekte om sy werk voort te sit. Plaaslike ondersteuners kan donasies by Pick n Pay Malelane se betaalpunte maak.

Van Graan reël ook ‘n kattebak-verkoping by Shoprite Malelane teen R100 ‘n stalletjie. Belangstellendes kan haar by 083-600-1750 skakel.

Van Graan het besluit om betrokke te raak nadat haar moeder in Augustus 2017 gesterf het. Sy is op 65 met fase 4-metastasiese borskanker gediagnoseer en is kort na haar eerste chemobehandeling oorlede nadat ‘n poort (port) septies geword het.

“My ma was nooit siek nie en ek was een van daardie persone wat gesê het dat dit nooit met ons familie sal gebeur nie,” vertel sy.

Van Graan het Pretorius se stryd en oorwinning oor borskanker raakgesien en dadelik ‘n koffieafspraak gemaak om te hoor hoe sy betrokke kan raak. Sy raai gemeenskapslede aan om voorkomend op te tree. “Doen die nodige toetse, veral as daar familielede met kanker is,” por sy.

Pretorius verduidelik dat sy na haar diagnose ‘n passie vir ‘n gesonder leefstyl ontwikkel het.

Tydens ‘n informele opname in Mbombela waaraan meer as 1 000 mense deelgeneem het, het 93 persent gesê dat hulle familie het wat met kanker, diabetes, ADD of ADHD gediagnoseer is.

Dit het Pretorius en haar span laat besef dat mense ingelig moet word oor die belangrikheid van ‘n gesonde leefstyl en dat gesonde kosse en smaaklike etes makliker bekombaar moet wees.

Hulle hoop om genoeg geld in te samel om die Moving Mountains-huis te open as ‘n holistiese sentrum om juis hierdie doelwitte te bereik.

Om meer inligting oor Moving Mountains, skakel Pretorius by 082-410-7779, stuur ‘n e-pos aan info@movingmountains.org.za of besoek www.movingmountains.org.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button