Stem vir Marloth vir Kwêla se Dorp van die Jaar 2019
Met genoeg stemme teen môre (Vrydag) 12:00 kan Marlothpark as finalis in Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie aangewys word.
MARLOTHPARK – Kwêla, ‘n kykNET-televisieprogram, het Sondagaand aangekondig dat Marlothpark saam met Witrivier en Dullstroom semifinaliste in die Mpumalanga-streek is.
Ondersteuners kan “Marloth Park” na 33157 stuur om te sorg dat die dorp die meeste stemme werf.
SMSe kos R1,50 en stemme sluit more om 12:00. Net 30 per nommer word toegelaat.
Gemeenskapslede kan jaarliks enige dorp in Suid-Afrika of Namibië benoem wat minder as 500 000 inwoners het en nie ‘n streekswenner van die vorige twee jaar of in die afgelope vyf jaar ‘n wendorp was nie.
LEES: Marloth Park house ablaze after lightning strike
Die benoemings word dan getel en wenners uit al die streke – Gauteng en Noordwes, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Namibië – word gekies.
Die drie dorpe met die meeste stemme dring deur na die semifinale en die gemeenskap kry ‘n week lank geleentheid om vir hulle te stem.
Nadat die finaliste aangewys word, sal Kwêla ‘n insetsel van elke dorp verfilm om hulle ‘n kans te gee om stemme van regoor die land te werf.
Die filmspan besoek dan van die dorp se besienswaardighede en gesels met inwoners oor wat dit spesiaal maak en waarom hulle verdien om te wen.
Die stemlyne sal dan van 18:00 op 26 Mei tot 12:00 op 31 Mei oop wees sodat gemeenskapslede vir die algehele wendorp kan stem. Dit sal op 16 Junie op Kwêla aangekondig word.
Die wenner gaan R1 miljoen se bemarkingsmateriaal van kykNET, ‘n 45-sekonde advertensie van Homebrew Films, Kwêla se vervaardigers, wat op die kanaal uitgesaai sal word, asook ‘n groot feesgeleentheid met kos, musiekvermaak en allerhande pret wen.
Kwêla word elke Sondag om 16:00 op DStv kanaal 144 uitgesaai. Ondersteuners kan ook hul gunstelingdorp op sosiale media bemark met #JouKwêlaDorp.
