Hard newsLocal newsNews

Kabeldiewe val plaashuis naby Komatipoort aan

Twee inwoners van 'n plaashuis net buite Komatipoort moes koes vir glasstukke toe kabeldiewe die vensters met klippe stukkend gooi nadat hulle verlede Donderdagaand betrap is.

KOMATIPOORT – Nadat Theuns Botha (78) ‘n groep kabeldiewe verlede Donderdagaand op heterdaad in sy erf betrap het, moes hy in die huis in vlug toe hulle hom met klippe begin bestook het.

Die groep het daarna op die huis toegesak en ‘n hele paar vensters en Theuns se bakkievenster stukkend gegooi en geslaan voordat hulle gevlug het.

Vensters aan drie kante van die huis is deur kabeldiewe stukkend gegooi.

Hy het gelukkig slegs ‘n paar snymerke aan sy been opgedoen weens die glas wat orals gespat het.

Theuns vertel dat hy die aand net voor 22:00 wakker geword het en ‘n glas koeldrank gaan aanmaak het. Toe hy die kraan oopdraai, was daar egter geen water nie.

Hy is buitentoe na die drukpomp in ‘n buitegebou en kom toe agter dat die pomp nie werk nie. Hy loer toe of die kabels nog reg is en voel meteens ‘n takkie teen hom krap. In die pikdonker en sonder sy gehoorapparaat kon hy nie veel uitgerig kry nie en is toe weer die huis in.

Hy voel toe ‘n pluk aan sy nagklere en kom met ‘n skok agter dat iemand hom met klippe gooi. Hy het die deur agter hom toegetrek en gesluit net voor ‘n groot klip dit getref het. Toe die klippe die huis van drie kante af tref, het hy besef daar is fout.

Franci, sy vrou, het weens die geraas wakker geword en hy het haar van die vensters af weggehou en die ligte afgeskakel.

Theuns, wat ‘n hele paar Afrika-tale magtig is, skree toe vir die groep in siSwati waarop hulle laat spaander het.

Volgens Theuns, wat nou al meer as 30 jaar in die huis bly, het kabeldiefstal die laaste paar jaar toegeneem en word die diewe al hoe slinkser en astrant.

Tydens hierdie aanval het hulle sowat vyf meter se kabel gesteel om die koper te stroop en te verkoop.

‘n Deel van die pakkamer se ysterwerk moes al vier keer gelap word as gevolg van die diewe wat telkens op dieselfde plek inbreek. Hulle het die deur ook al verskeie kere oopgebreek en gereedskap en masjienerie gesteel.

Ysterwerk aan ‘n buitegebou moes al verskeie kere gelap word in ‘n poging om inbrekers se gereelde ingang te versper.

Selfs die rivierpompe en enige kragkabels op die perseel het al deurgeloop en Theuns moes allerhande planne beraam om die diewe te fnuik.

Theuns wys hoe van die pompkamers se deure oopgebuig en kragkabels geknip is.

Hy sê dat hy al moedeloos met die polisie is en begin weier om sake aan te meld. Hy voer aan dat hy al diewe self gevang en aan die polisie besorg het, maar dat niks daarvan gekom het nie. Na hul hofverskyning word hulle op borgtog vrygelaat en hulle gaan net weer aan om te steel, meen hy.

Hy is keelvol en oorweeg dit sterk om die polisie te dagvaar vir sakevergoeding aangesien hy voel dat hulle die gemeenskap nie genoeg beskerm nie.

Talle van sy bure loop ook gereeld onder die diewe deur. Rina Greyling vertel dat sy ook al twee diewe in haar voertuig betrap het en dat ‘n besoeker eenkeer inbrekers in haar huis verras het. Sowat drie weke gelede is daar ook kragkabels op die plaas gesteel. Sy vertel dat Securicon Lowveld se personeel haar gelukkig ken en baie flink reageer as daar enige moeilikheid is.

LEES: Tech Thursday: 4 recommended safety apps for women

Sers Natacia Mbuyane van die Komatipoort Polisiestasie het bevestig dat kabeldiefstal ‘n groot probleem is – veral in die Strydomblok en die omgewing rondom die Mananga-pad.

Sy vertel dat hulle van die Bothas se probleem bewus is en dat ‘n lasbrief vir die arrestasie van een van die diewe wat op die erf betrap is, uitgereik is. Na die beskuldigde se hofverskyning, het hy egter na Thembisa verkas en soek die polisie steeds na hom.

Polisiebeamptes het ook verlede week die Bothas aangemoedig om ‘n saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom aanhangig te maak, maar Theuns het geweier.

Mbuyane het mense aangespoor om sake aan te meld en gesê dat dit die gemeenskap se reg is om dit op te volg as hulle glo dat dit nie genoegsame aandag geniet nie.

“As mense glo dat hulle nie deur die polisie gehelp word nie, is dit hulle reg om dit by die stasiebevelvoerder, daarna die areabevelvoerder, selfs by die provinsiale kommissaris of hoër geplaastes aan te meld,” het sy gesê.

Sy waarsku egter dat dit noodsaaklik is dat sake aangemeld en soveel bewysstukke as moontlik teen die diewe ingesamel moet word om te verseker dat die hof die skuldige partye agter tralies kan sit.

LEES: More places of safety needed in Malalane

Die sersant het ook gemeenskapslede en belanghebbendes versoek om die maandelikse landelike veiligheidsvergaderings by te woon. “Hier kry ons mense se menings oor hoe ons misdaad kan bekamp, watter probleme hulle ondervind en hoe die gemeenskap en polisie kan saamwerk om die omgewing te beveilig,” het sy verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button