Local newsNews

Herinneringe aan die dorp se vrou met styl

Sy was vir 27 jaar orrelis by die NG Kerk op die dorp, maar meer bekend as die "Koorvrou van die Laeveld"

Hoewel sy nie die afgelope paar jaar meer in Witrivier gewoon het nie, onthou die dorp steeds een van sy bekendste vroue – Babsie Nel.

Babsie is einde verlede jaar in Durbanville oorlede.

Sy was vir 27 jaar orrelis by die NG Kerk op die dorp, maar meer bekend as die “Koorvrou van die Laeveld” en die tydskrif Sarie se “Vrou met styl”. Sy het dié kompetisie in 1993 gewen.

In die artikel wat destyds oor haar in die tydskrif verskyn het, het sy vertel hoedat sy van kleins af klavier wou speel en haar droom in standerd 2 gestalte gekry het toe haar ouers haar met ‘n groot, blinknuwe klavier verras het.

Dit was die begin van ‘n leeftyd se werk en toewyding aan musiek. Sy het nie net musiek gemaak nie, sy het dit gelééf en almal om haar daarmee verryk.

Sy het musiek (klavier en orrel) aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en later ook gesorg dat al vyf haar kinders ‘n musiekagtergrond kry. Maklik was dit nie altyd nie, want sy het haar eggenoot vroeg verloor en as alleenouer in ‘n stadium vier van die vyf gelyk op universiteit moes hou.

Hulle het in die laat sestigerjare op Witrivier kom woon en sy het vroeg reeds haar stempel op die dorp se kultuurlewe afgedruk. Sy het gesorg dat menige dramas, balletopvoerings, operas of simfoniekonserte waarmee Truk in die jare sestig en sewentig getoer het, hier aangebied is.

Nadat sy orrelis in die kerk geword het, het sy natuurlik ‘n kerkkoor, die Witrivierse Mannekoor in 1985 gestig. Met baie geduld en deursettingsvermoë het sy aan sowat 20 manne waarvan slegs een of twee kon note lees, geskuur en geskaaf totdat die koor later bekend en beroemd was – selfs buite die Laeveld se grense.

Later het sy ook die Witrivierse Dameskoor gestig wat saam met die mans ‘n gedugte groep gevorm het. In 2000 het hulle selfs oorsee gaan toer.

Behalwe musiek was Babsie ook baie lief vir tuinmaak en blomme. Haar tuin op die plot waar sy baie gewoon het, was ‘n ware lushof en selfs in Macadamia-aftreeoord waar sy later jare gewoon het, was haar tuintjie altyd netjies en versorg.

Babsie het sowat 10 jaar gelede in ‘n oord naby haar dogter Amanda in die Kaap gaan woon, maar in die jare daarna meer as een keer terug Witrivier toe gereis om ‘n reünie met haar koorlede te hou.

Sy was 92 toe sy oorlede is, maar haar naam duik steeds in baie gesprekke op en die jare wat haar kore bestaan het, sal altyd as kulturele bloeijare op die dorp onthou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button