H1-bus kry ‘n splinternuwe aanskyn
Hyundai-voertuie was altyd bekend vir goeie waarde vir geld en betroubaarheid, maar die hedendaagse geslag modelle tref deesdae ook met aantreklike ontwerp en goeie gehalteafwerking.

Hyundai SA het verlede jaar sy gewilde nege-sitplekker H1-bussie opgekikker en die staatmakertoerbus beïndruk nou met ‘n moderne voorkoms en heelwat lekkerry-geriefies.
Die opgekikkerde H1-bus se voorkoms is netjies reggetrek en met die herontwerpte vooraansig met nuwe hoofligte en heelwat ekstra chroomafwerking, trek die bussie behoorlik aandag onder die stylbewuste petrolkoppe onder ons.

Hyundai SA het twee enjinweergawes van die toerbusmodel plaaslik bekendgestel asook ‘n paneelwa. Die sessitplek MultiCab is amptelik nie langer in SA beskikbaar nie, maar die opsie is steeds beskikbaar as ‘n spesiale bestelling.
Pragtige 17 duim-sierwiele doen diens op die topmodel, die Elite-diesel terwyl die paneelwa steeds op 16 duim-staalvellings ry.

Die H1 2.4 Executive word aangedryf deur ‘n 2 359 cc-viersilinderpetrolenjin wat 126 kW en 225 Nm lewer en is toegerus met ‘n vyfganghandratkas. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 10,2 liter/100 km in ‘n gemengde gebruiksiklus. Die verkoopprys beloop R499 900.
Die topmodel, die H1 2.5 Elite word aangedryf deur ‘n 2 497 cc-viersilinderturbodieselenjin wat 125 kW en 441 Nm lewer via ‘n outomatiese vyfgangratkas. Amptelike verbruik is 9,8 liter/100 km en die verkoopprys is R629 900.
Aandrywing by al die modelle is deur die agterwiele.

Die diesel H1 Elite word luuks toegerus en die ruim kajuit is standaard afgewerk met leerbekleedsel. By die jongste model is die poeierkwas ook mildelik in die kajuit aangewend en ‘n beter inligtingsvermaakstelsel met ‘n groter raakskerm doen diens middel bo in die voorpaneel.
Die stuurwiel met afstandbeheerskakelaars vir klank, togbeheer en kommunikasie kan nou teleskopies in- en uittrek asook op en af verstel.

‘n Trukamera as parkeerhulp is bygevoeg by die Elite-model met die beelde wat in die truspieëltjie vertoon word.
Om die H1-bus meer begeerlik en geriefliker as toerbus vir die familie te maak, sluit standaardtoerusting op die topmodel nou onder meer in: Bluetooth-koppeling, ‘n USP-kontaksok, spoedbeheer, ten volle outomatiese lugversorger met klimaatbeheer, en elektries verstelbare kantspieëls wat kan toevou. ‘n Tweede verkoelde paneelkassie is ook bygevoeg net reg om te verhoed dat die sjokoladestafies smelt of om die lafenisse koel te hou.

Groot skuifdeure aan beide kante maak in- en uitklim vir agterste passasiers prakties en gemaklik.
Vir veiligheid is daar lugsakke asook ‘n elektroniese stabiliteitsprogram en uitstekende remme. Vir ‘n groot bus het die H1 gemaklik en vinnig gestop wanneer dit nodig was. Ons het gevind dat die model, ten spyte van sy logge lyf, ook sonder probleme in die knap parkeerspasie van die inkopiesentrum stuur danksy ‘n baie effektiewe kragstuur.

Op die pad het die H1 Elite se 2,5 diesel beïndruk met gemaklike hantering en goeie padgedrag. Sitposisie is hoog met goeie sigbaarheid vir die bestuurder. Die grootte van die bus mag dalk lomp voorkom, maar paddinamika – selfs deur die bergpas se draaie – het die teendeel bewys, grootliks te danke aan die McPherson-tipe vering met gasskokbrekers voor en vyfpunt-multiskakelvering agter wat met olie-gevulde skokbrekers toegerus is.
Wat ook tot die H1 se voordeel strek, is dat die diesel gemaklik tot 1,5 ton se vrag kan sleep asook 842 liter se bagasie in die bagasieruim kan dra. Dit maak ‘n langpadtoer met nege insittendes soveel meer prakties en gemaklik.
Die H1-bussie is ‘n uitstekende alternatief tot die ander vervaardigers se modelle wat in hierdie segment beskikbaar is. As jy ‘n luukse bussie vir die familie soek, bied die Hyundai H1 Elite diesel die ideale opsie.
• H1 2.4 Executive Bus (petrol, handrat) R519 900
• H1 2.5 Elite Bus (turbodiesel, outomaties) R644 900.
Pryse sluit in Hyundai se vyf-jaar/150 000 km-waarborg met ‘n bykomende twee jaar/50 000 km-vervaardigerswaarborg vir die aandryfstelsel asook ‘n vyf-jaar/150 000 km-padbystanddiens en ‘n vyf-jaar/90 000 km-diensplan.



















