Nog fondse benodig vir Damien se breinoperasie
Die operasie gaan tussen R250 0000 en R300 000 kos.

MBOMBELA – Daar is nog ‘n lang pad om te stap voor Damien Minnie-Parkes se breinoperasie.
So vertel sy ma Berenice Parkes, maar voeg by dat dit goed gaan met die fondsinsamelingsproses.
Die breinoperasie moes aanvanklik aan die einde van Maart plaasgevind het, maar weens ‘n gebrek aan fondse kan Damien die dokter eers weer in April besoek.
“Ons is besig om met die mediesefonds te onderhandel en te kyk hoeveel geld ons bymekaar kan kry,”
vertel Berenice.
Die 15 maande oue Damien is op sewe maande met metopiese kraniosinostose-trigonosefalie gediagnoseer. Trigonosefalie is ‘n aangebore toestand van voortydige samesmelting van die metopiese hegting (voorkop), wat lei tot ‘n driehoekige voorkop. Die samesmelting van die twee voorste bene van die skedel lei tot dwarsgroeibeperking en parallelle groei-uitbreiding.
LEES OOK: VOORSKOU: Koop ‘n lootjie en help kindjie se lot verander
Dit beteken dat Damien se skedelbeen met ‘n punt na voor getrek is wat risiko’s vir die ontwikkeling van sy brein inhou. Hy sou die einde Maart ‘n operasie ondergaan het waar hulle sy skedelbeen breek en reg heg. Hier gaan die dokters gebruik maak van stente om die skedelbeen in plek te hou en ook te verseker dat daar geen vloeistof op sy brein is nie.
Die operasie gaan tussen R250 0000 en R300 000 kos. Hiervoor samel Berenice, Damien se pa Markus Minnie en Juanita Pretorius van Beautiful Events by Us fondse deur middel van lootjieverkope in.
Hulle het sedert die begin van Maart sowat R10 000 ingesamel. ‘n Lootjie kos R20 en daar is heerlike pryse op die spel. Vir meer inligting en om ‘n lootjie te koop, skakel Pretorius by 078-095-5969.
LEES OOK: Fund-raiser to help Logan Dyssel hear
