Gewilde dokter Robbie ken nie van stilsit nie
Sy enigste probleem is dat elke dag se 24 uur te kort is om alles te doen wat hy nog graag wil.
Weggesteek tussen ‘n oogkundige praktyk en ‘n gewilde bank in die Hazyview Junction-inkopiesentrum sien ‘n mens die onopgesmukte naambord van dr. Robbert Gustav Nel.
Ewe onopgesmuk is die naambord wat die plaas Sifikile, woning van Robbie en Linda Nel vanaf die R40 tussen Hazyview en Witrivier aandui.
Wanneer jy egter die kronkelpad tussen piesangs, macadamiabome en selfs ‘n koffieplantasie deur na die opstal neem, bereik jy ‘n klein “universe” op sy eie en twee mense wat die lewe met albei hande aangryp, ten spyte daarvan dat Robbie al sy 76ste verjaardag gevier het.
Oor ‘n eenvoudige, andersoortige ontbyt met onder andere ‘n vars en gesonde ontbytdrankie wat appel, wortel en seldery bevat en rou heuning op die smaaklike Franse braaibrood, ontdek ‘n mens gou waarom Dr. Robbie so gewild by pasiënte en die wyer gemeenskap is. Dit raak ook gou duidelik waarom Linda, ongeveer 20 jaar jonger as haar eggenoot van vier jaar, met sterre in haar oë en bewondering in haar stem van dié merkwaardige man vertel.
As algemene praktisyn het hy geen bekendstelling in die gemeenskap nodig nie. Hy het in die vroeë sewentigs ‘n praktyk in Sabie geopen en in 1994 eers in Kiepersol en toe na Hazyview geskuif. Meer onlangs het hy begin om selfs meer mense in die omgewing se lewens positief te verander nadat hy op 75-jarige ouderdom sy nagraadse diploma in “Advanced Aestetica and Anti-Aging Medicine” verwerf het.
Hy wys dan ook later ewe beskeie foto’s van pasiënte vir wie hy ‘n nuwe lewe vol selfvertroue kon skep nadat hulle gesigte deur onder andere brandwonde geskend was. Min of geeneen van hierdie pasiënte was in staat om vir sulke operasies of behandelings te betaal nie, maar Dr. Robbie sê dat hulle dankbaarheid en erkenning vir hom as betaling voldoende is.
Daarby is hy ook bekend as een van die min dokters in die omgewing wat gekwalifiseerd is om vlieëniers se vlieg-mediese ondersoeke vir die burgerlugvaartowerhede van beide Suid-Afrika en Amerika te behartig. Hy vertel skalks dat hy altyd vliegverwante leesstof diskreet in sy wagkamer laat lê en dadelik kan sien watter van die aansoekers vlieëniers in murg en been is omdat hulle sonder uitsondering dié leesstof optel en lees, terwyl ander dit skaars opmerk.
Dat dade en ervarings vir hulle albei meer as rykdom of besittings beteken, word verder beklemtoon deur die passie waarmee hulle boer en lewe. Vir Robbie is die piesang-, gemmer-, macadamia- en koffieplante op sy plaas nie net middele tot ‘n doel nie. Vir hom het elke boom en plant ‘n persoonlikheid en om dit te bewys haal hy sommer vinnig onlangse navorsing aan waar bewys is dat bome wat deur verbygangers vriendelik aangespreek is, beter gegroei het as dié wat deur omstanders geïgnoreer of selfs beledig is.
Veral die verbouiing van koffie is ‘n relatiewe nuutjie in die omgewing, hoewel die eerste koffieplante in die vyftigerjare deur die eerste eienaar van die plaas uit Ethiopië en Somalië hierheen gebring is. Nadat van die plante herhaaldelik hier opgekom het, het hy besluit om nuwe variëteite te plant en vandag word hul spesialiteitskoffie reeds na Duitsland uitgevoer en deur talle plaaslike lodges gebruik.
Tussendeur oefen die egpaar fluks om weer volgende jaar aan die Comrades-marathon deel te neem. Dit sal Robbie se 15e een en Linda se eerste wees. Vir die afgelope agt jaar het Robbie egter die Comrades vir Ysterman-kompetisies verruil, daarom oefen die twee nou verwoed deur twee keer per week op hul tandem te ry en vier keer per week te hardloop.
Vir die besige dokter en boer is vinnige vervoer na en van pasiënte, vergaderings en soms ‘n bietjie vakansie natuurlik ook belangrik. Daarvan getuig die Piper Cub en Bonanza Beechcraft in die vliegtuigloods en ‘n vurige wit Ford Mustang in die motorhuis.
Aan aftree het hy nog nooit eens gedink nie en haal Langenhoven aan: “Ek sal ook maar aftree wanneer die liewe Vader my by die werk kom haal,” spot hy. “Solank ‘n mens nog kan, is dit beter om te werk en jou brein fiks te hou,” glo hy.
Maar hy voeg dadelik by dat dit wel goed kan wees om van werk te verander. Sy enigste probleem daarmee is egter dat elke dag se 24 uur te kort is om hom aan nóg iets te begewe…


