André se helpende hand strek ver
Pediatriese Sorg Afrika se mandaat maak voorsiening daarvoor om kinders tydens natuurrampe op die vasteland by te staan.
Waar om ‘n klein bokkie tussen die Mosambiekse grens en Chimoio te vind – dit is die vraag wat dr. André Hattingh van Pediatriese Sorg Afrika tans snags wakker hou terwyl hy voorberei om binnekort nog 30 ton kos en medisyne na die sikloongeteisterde Inchopo en Chimoio te neem.
Dieselfde dokter se oë word sag wanneer hy onthou hoe hy eens deur ‘n moeder met ‘n hoender vir sy sorg aan haar kind beloon is en kyk soms na die video van ‘n baie spesiale liedjie – een wat deur ‘n albinokunstenaar uit dankbaarheid vir hom geskryf en geproduseer is.
Hierdie week het White River Post by Hattingh gaan kuier en verstaan nou waarom hierdie oënskynlike nietige dinge dié afgetrede chirurg met ‘n Ph.D. in neurowetenskap en jare se ondervinding oor die hele wêreld heen, met soveel deernis vervul.
Hattingh is pas terug van ‘n besoek aan Mosambiek. Toe hy besef dat ‘n kategorie-vier-storm die gebied nader, het hy onmiddellik sy getroue Land Cruiser-bakkie met toepaslike kosprodukte (mieliemeel, blikkies hoë-proteïen-kos, rys en babaformule) gelaai en stoksielalleen die twee en ‘n halwe dag se tog na Beira aangepak, met die hoop om by ander reddingsmissies aan te sluit. Gelukkig is hy ‘n bietjie Portugees magtig.
Pediatriese Sorg Afrika se mandaat maak voorsiening daarvoor om kinders tydens natuurrampe op die vasteland by te staan.
‘n Onbegaanbare pad, of dalk die noodlot, het hom egter naby die dorpie Inchope, omtrent 100 km van Beira af vasgekeer en het hy gou besef dat hy die eerste was om daardie gebied te bereik.
“Daar was niks van die dorp oor nie,” sê hy. “Sowat 200 000 mense se hele lewens is verwoes. Hul oes was weg, hul modderhutte vernietig en hul bokke en hoenders het verdrink.”
‘n Weeshuis se dak het afgewaai en agt ernstig beseerde pasiënte het onder ‘n seil skuiling gesoek. Beserings is veroorsaak deur mure wat inmekaar geval het en dakplate wat in die stormwind meegesleur is.
Onder hulle was ‘n 19-jarige vrou met ‘n gebreekte pelvis, ‘n 17-jarige kind met ‘n femurfraktuur en ‘n man met ernstige pyn in sy arm weens vasgeknypte senuwees.
“Maar dokters red nie lewens nie – geld, toerusting en voorrade doen,” sê Hattingh wanhopig. “Gelukkig hoor ons toe dat Chimoio, ‘n naburige dorp, wonderbaarlik die verwoesting van die sikloon ontsnap het. Ons het die Land Cruiser in ‘n tydelike ambulans omskep en kon vyf pasiënte daarmee soontoe vervoer.”
Tot hul verligting het Chimoio water, elektrisiteit en selfs diesel gehad. Die hospitaal was basies toegerus en met toestemming van die Mosambiekse mediese raad het hy ‘n bekwame plaaslike ortopeed bygestaan om die jong vrou se gebreekte pelvis asook die femurfraktuur op die 17-jarige kind te herstel.
In Chimoio het hy ‘n huilende dogtertjie onder ‘n boom gevind wat hartseer was oor haar troetelbokkie wat weg was. “Op die ingewing van die oomblik belowe ek toe wraggies om vir haar weer een te bring as ek terugkom!” sê hy.
Verlede Sondag het hy teruggekeer na Suid-Afrika met die doel om 30 ton kos in te samel, asook geld om medisyne in Mosambiek te koop. “Dit spaar baie rompslomp om dit daar te koop in plaas daarvan om dit oor die grens te neem,” verduidelik hy die behoefte aan geld eerder as medisyne self.
Sy teikenarea strek 80 km lank en 100 km breed en is tans nog onbereikbaar. Honderde duisende mense is daar afgesluit van ander reddingsreddingspanne. Hulle benodig mediese sorg, kos en skoon water. “Cholera is onvermydelik onder hierdie omstandighede,” sê Hattingh wanhopig. “Hul natuurlike waterbronne, riviere en putte is alles weggespoel of besmet en handpompe is meegesleur.
“Tydens my besoek het ek nie eens diere of voëls gesien nie,” onthou hy. “Geen woorde kan die verwoesting beskryf nie – die reuk, die skade, selfs die atmosfeer van angs onder die oorlewendes wanneer die wind selfs net liggies begin waai.”
Sodra die pad tussen Inchopo en Beira herstel is, hopelik oor ongeveer twee weke, sal hy terugkeer om daardie gemeenskappe te help.
Gelukkig is sulke omstandighede nie onbekend aan Hattingh nie. Sy eerste ervaring daarvan was in Rwanda, toe hy met n ‘n VN-sending na die volksmoord gaan help het. “Daar het ek ervaar wat dit beteken om die verskil in mense se lewens te maak en het besef dat Afrika my roep,” sê die man wat in Koster in die Wes-Transvaal grootgeword, maar met ‘n beurs by die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles in die VSA as mediese dokter en chirurg gekwalifiseer het.
Hy het sy Afrika-avontuur in Zambië begin voordat hy na Livingstone verhuis waar hy ook sy vrou, Joyce, ‘n Nederlandse prokureur, ontmoet het.
Later is hy na Blantyre en Lilongwe in Malawi waar hy sy eerste hospitaal van vele ontwerp het.
“Ek het uiteindelik sewe hospitale gebou, onder andere ‘n kinderkospitaal in Kisangani in die Demokratiese Republiek van die Kongo waar ek nege jaar deurgebring het, ook as mediese direkteur van die hospitaal tot in 2017.”
Dit was daar waar hy die hoender as geskenk gekry het en die liedjie oor hom geproduseer is.
Na sy aftrede twee jaar gelede het hy naby Witrivier kom woon van waar hy Pediatriese Sorg Afrika gestig het.
“Maar eintlik het ek nooit een dag in my lewe gewerk nie, elke dag was ‘n plesier,” sê die man wat nou die moeilike uitdaging in die gesig staar om daardie klein bokkie op pad na Beira te vind.
Intussen vra hy die publiek om geskikte voedselvoorrade soos rys, mieliemeel, gebottelde water, babaformule en ingemaakte voedsel vir die projek te skenk.
Besoek www.pediatriccareafrica.org om uit te vind hoe om te skenk.

