Die bal is aan die rol om Steiltes se reservoir op te knap
Silulumanzi het onderneem om die draadheinings en die beligting op te knap, en om die reservoir te seël en voor te berei vir 'n nuwe laag verf.
Die sokkerbal-reservoir in Steiltes is al ‘n geruime tyd ‘n projek van die Nelspruitse Plaaslike Toerismeorganisasie (NLTO). Vanuit ‘n toerisme-oogpunt, is die visie steeds dat dit as ‘n besonderse uitkykpunt bemark moet word. Dit bied ‘n pragtige uitsig oor die stad, veral wanneer die skouspelagtige sonsondergange die hemelruim kleur.
LEES OOK: Alert neighbour saves the lives of mother and child in hijacking
Op 2 April het afgevaardigdes van die NLTO, Silulumanzi en BUCO vir die eerste keer bymekaar gekom. Na maande se gesprekke en onderhandelinge is ‘n daadwerklike plan van aksie saamgestel vir die verfraaiing, herstel en opheffing van die sokkerbal en sy omgewing.

Silulumanzi het onderneem om die draadheinings en die beligting op te knap, en om die reservoir te seël en voor te berei vir ‘n nuwe laag verf. Ook die tuinuitleg sal aandag kry en vrywilligers wat betrokke was tydens die 2010 Sokker Wêreldbeker-projek, sal weer genader word.
LEES OOK: Our Mozambican neighbours need your help to get through
BUCO, die grootste borg, is goedgunstiglik bereid om die verf vir die projek te skenk en toe te sien dat dit geverf word.

Die NLTO, in samewerking met die munisipaliteit, gaan sorg dat kennis-gewingsborde opgerig word. Behalwe vir reëls en regulasies, sal die interessante geskiedenis rondom die reservoir ook vertel word. Padtekens sal aangebring word wat die plek aandui.
Genoeg vullisdromme, gereelde skoon-maak van die area en die herstel van die dek is ook deel van die plan.
Enigiemand wat betrokke wil raak, is welkom en kan so doen deur Riana Joubert op 071-876-6865 te skakel.
