Kwartet sorg vir Saterdagmiddag musiek en pret
Die kwartet het ’n paar klassieke werke, asook meer gewilde nommers uitgevoer.
’n Saal vol liefhebbers van klassieke kamermusiek het verlede Saterdag by Macadamia Aftreeoord op die dorp na ’n uitvoering van die Andante Kwartet kom luister.
Een van Macadamia se inwoners, Hans Scholtz, is lid van dié kwartet, terwyl een van die ander selfs van Lydenburg af gereis het om aan die uitvoering te kom deelneem. Alhoewel Hans uiters beperkte visie het, is hy ‘n bekwame musikant wat verskeie instrumente speel en sy medeinwoners is baie trots op hom.
Die kwartet het ’n paar klassieke werke, asook meer gewilde nommers uitgevoer, sodat die gehoor naderhand spontaan saam handegeklap en selfs gesing het.
Na afloop van die uitvoering – wat verskeie oproepe tot encores ingesluit het – het almal saam kerrie en rys en nagereg geniet.
