Nellie kry kans om in New York te gaan dans
Mické is nou uitgenooi om einde Julie in New York aan die internasionale Talent America-kompetisie deel te neem.

MBOMBELA – Mické Botes (12) het verlief geraak op dans toe sy net agt jaar oud was. Hierdie leerling van Laerskool Nelspruit vertel dat die dansverhoog beslis haar tuiste is. Mické is nou uitgenooi om einde Julie in New York aan die internasionale Talent America-kompetisie deel te neem.
Dit is na een van die beoordelaars haar onlangs by die finale ronde van Talent Africa raakgesien het. “Ek was terselfdertyd geskok en opgewonde toe ons die oproep kry omdat daar so baie ander dansers was,” het sy gesê.

LEES OOK: Feel-good Friday tune
Volgens haar ma, Adel is die prestasie uiters besonders omdat Mické haar eie dansroetine gechoreografeer het, asook haar eie grimering doen en oefeningskedule bepaal. Mické blink uit in nie minder nie as 15 verskillende danssoorte wat onder meer bhangra, kontemporêre dans, hip-hop, samba, wals en jazz insluit. Haar gunstelinge is kontemporêr en samba.
“Kontemporêre dans is baie emosioneel en samba is vir my baie pret om uit te voer,” sê sy.

Haar ma vertel dat sy ander aktiwiteite ‘n bietjie moes afskaal om meer tyd vir dans te maak toe sy aan kompetisies begin deelneem het. Haar ander grootste prestasie in die danswêreld is dat sy tans derde in SuidAfrika in die junior kategorie geplaas is.
Nog ‘n hoogtepunt vir Mické is beslis om na verskillende provinsies te reis en sy het al in Kaapstad, Johannesburg, Witrivier, Polokwane, Durban en aan die Suidkus deelgeneem. Sy het ook vertel dat die Kaap vir haar ‘n besonderse mooi bestemming is.
LEES OOK: Innibos vat vlam met Blits-bos-braai

Al die verskillende danssoorte verg dissipline en haar familie en vriende ondersteun haar goed. Op haar jong ouderdom is die druk om haar beste optrede te lewer, groot.
“Ek is altyd senuweeagtig voor ek op die verhoog kom, maar wanneer ek dans, voel ek net die musiek. “Ek skakel die dansbrein af wanneer ek skoolwerk doen, omdat dit taamlik moeilik kan wees om te wissel tussen skool en dans.”
LEES OOK: A riding family and their beloved bikes

Vir Mické wink die verhoog en is dans vir haar ‘n uitlaatklep en middel waardeur sy haar drome wil bereik.
“Ek wil graag eendag op Broadway verskyn asook op die silwerdoek.”
Sy het beslis bewys dat sy Mpumalanga en die land oorsee kan verteenwoordig.
