Wat maak Ghost op die dak?
Plaaslike kunstenaar Ghost, oftewel Wouter de Witt, het die laaste week baie tyd op die inkopiesentrum se dak deurgebring.

MBOMBELA – Crossing-sentrum gaan groot om die twee wêreldbekertoernooie waaraan Suid-Afrika vanjaar deelneem, te ondersteun.
Die Proteas en Springbokke is nie noodwendig die gunstelinge om in die krieket- en rugbywêreldbekertoernooie as kampioene gekroon te word nie, maar daar bestaan steeds ‘n kans dat hulle trofeë kan opraap.
Ghost het gister die reusegroot Suid-Afrikaanse vlag klaargemaak.
Dit was ‘n kragtoer, selfs vir iemand met sy ervaring.

Ghost is veral bekend vir Ou Joe in Schoemanskloof, wie hy gereeld optooi. “Dit was my eerste dak,” erken hy. “My eie huis se dak kort ‘n laag verf,” voeg hy by.
SIEN OOK: Unwrap the Easter Mystery of Old Joe
Hy het verlede Vrydag die groen geverf en Maandag die rooi- en blou-dele gedoen. Hy sou Woensdag sy taak afhandel: een so massief dat hy dit aanvanklik van die hand gewys het.

Sy grootste werk nog was die verf van die Steiltes-reservoir in 2010. Dit is nou een van die stad se bekende landmerke. Hierdie dak was sy tweede grootste opdrag.

“Dit is nogal ‘n storie,” sê Ghost vir Laevelder. Hy moes eers die grootte afmeet. Daarvoor moes hy met maatband in die hand op die dak klim. Die oppervlak waarop hy moes werk, was sowat 12 by 29 meter.
Daarna het hy ‘n grafiese voorstelling van die landsvlag op CorelDRAW geplaas en sleutelpunte bepaal. Hierdie punte is op die dak gemerk.

Daarna het hy ysterhake gemaak en by die punte aangebring.
‘n Tuinslang is daaraan geheg om die buitelyne van die vlag te vorm sodat Ghost daarvolgens kon verf.

Hy het ‘n groot en klein platform gebruik wat by die steil helling van die dak pas om sy verfblikke op staan te maak.
Hy self is soos die platforms met ‘n tou aan die bokant van die dak vasgemaak. Dit sou keer dat hy en die blikke verf teen die dak afgly en op die klante daaronder se koppe beland.

Buiten die hoogte bo die grond en die helling van die dak, was die grootste uitdaging die dakteëls se vorm. Hy het ‘n spesiale kwas gebruik omdat die teëls so rond is.
“My hand is sat,” voeg hy by. “Dit is ‘n moeilike taak, dit is harde werk.”
Op warm dae het hy vroeg begin maar so tussen 11:00 en 15:00 opgehou. Wanneer die eerste druppels reën geval het, moes hy ook ophou, want dit sou die verf laat loop en dan sou hy dit moes oordoen.
Die gemeenskap se reaksie was positief. Mense het gewaai en gesê hy moet mooi vashou. Hy is nie bang nie, maar versigtig vir hoogtes sê hy.
“Elke oggend voor ek opgeklim het, het ek gebid dat die Here se engele my moet beskerm, en vir wysheid. Ek sou dit nie kon doen of so vinnig kon afhandel sonder die Here nie,” sluit hy af.
SIEN OOK: Meet the ghosts of the Lowveld
