Hierdie kampe is gerig op die aanleer van vele waardes
Die Landsdienslede van Laerskool Numbi het hul skool al by meer as een geleentheid trots gemaak.
Laerskool Numbi se gr. 6 en 7’s het onlangs ‘n Landsdienskamp by Sabaan bygewoon. Die kinders is in spanne opgedeel wat moes saamwerk in aktiwiteite.
Daar was ook genoeg tyd vir speel met verskillende speletjies wat aangebied is.
Uit die groep is toe 23 kinders gekies om op 26 April op ‘n 24-uur oorlewingskamp te gaan. Daar sal weer 10 kinders vir die provinsiale kamp gekies word. Dit vind van 15 tot 18 Junie by Meulstroom buite Cullinan plaas.
Die Landsdienslede van Laerskool Numbi het hul skool al by meer as een geleentheid trots gemaak deur verskeie take in en om die skool te verrig. Landsdiens se leuse is immers gegrond op liefde vir God, liefde vir die natuur, liefde vir jou medemens en liefde vir arbeid.
Volgens die organiseerders is Landsdiens ‘n omgewingsgerigte jeugbeweging wat daarna streef om die jeug vaardig te maak in die hantering en bewaring van die omgewing in sy totaliteit. Om dié doel te bereik word van opvoedkundige omgewingsgerigte aktiwiteite en tegnieke gebruik gemaak. “Die kinders word geleer om om te gee, betrokke te wees en dinge wat omgewingskwessies betref só te doen dat dit vir hulle ‘n lewenswyse sal word.”
Deur die aktiwiteite waaraan hulle op sulke kampe deelneem, leer hulle ook om Bybelse waardes te handhaaf en liefde vir God te ontwikkel en vas te lê waardeur liefde en waardering vir en betrokkenheid by die bewaring, benutting en verbetering van die omgewing ontwikkel word. Kennis, vaardighede en houdings word by die kinders tuis gebring wat hulle in staat stel om huidige en toekomstige uitdagings doelgerig, selfstandig en verantwoordelik die hoof te bied.
Deur saam met ander in spanverband te werk ontwikkel weer begrip en waardering vir belangrike groepwaardes.
