Local newsNews

Witrivier se rugbyspelers sien uit na die Premier Liga

Met 'n rits oorwinnings in 'n ry het die manne gewys dat hulle gereed is vir vanjaar se Phakisa Premierliga.

Witrivier Rugbyklub loop vandeesweek breëbors rond nadat al die spanne vir die tweede keer in twee weke met Barberton afgereken het.

Twee weke gelede het die spanne op Barberton kragte gemeet en die afgelope naweek het hulle weer op Witrivier se tuisveld sake uitgespook.

Witrivier 1 het Barberton 1 hier met 49-20 geklop en Witrivier 2 het Barberton 2 met 41-14 afgeransel.

Witrivier 3 het teen Matsulu gespeel en hulle met 19-12 gewen.

Tydens die vorige kragmeting op Barberton het Witrivier 2 die tuisspan met 24-12 geklop en Witrivier 1 het met 47-17 gewys dat hulle Barberton 1 se baas is.

Op 7 April het Witrivier se spanne op Hoedspruit gaan kuier. Daar het die derde span met 7-17 teen ’n span van Venda Universiteit verloor, maar die tweede span het met 22-0 met Malalane afgereken en die eerste span kon hul man teen Noordelikes staan deur met 19-7 te wen.

Met hierdie vertonings het die manne gewys dat hulle gereed is vir vanjaar se Phakisa Premierliga wat eersdaags afskop. Witrivier reis vir hul eerste wedstryd in dié reeks ver om op 27 April teen Sasol kragte te meet en speel ook hul tweede wedstryd, op 4 Mei, weg teen Nelspruit.

Op 11 Mei durf die manne die Highlanders hier op hul tuisveld aan en ontvang ook op 18 Mei vir Middelburg hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button