Local newsNews

Amber kan nou sommer baie meer sien

Amber se hele lewe het verlede Saterdag verander toe sy haar nuwe e-bril kon opsit.

Amber Jane Prinsloo (16) kan weer sien. En van die eerste woorde wat sy met haar nuwe eSight-bril gelees het, was heel gepas: “But now I can smile. My eyes are wide open and they see things differently.”

Dié woorde was toevallig bo aan die bladsy van ‘n boek wat sy oopgemaak het toe sy vir Laevelder se joernalis se kamera poseer.

Amber het ‘n ongewone oogtoestand: Stargardt se siekte, soos Hazyview Herald vroeër reeds berig het. Hoewel sy nie blind is nie, het sy slegs 15 persent periferiese visie in elke oog. Sy kan nie gesigte sien nie, slegs mense se buitelyne. Sy moes ‘n groot vergrootglas gebruik om slegs een woord op ‘n keer te kon lees – wat studeer en eksamen skryf baie lank laat neem het.

Dit het alles verlede Saterdag verander toe sy haar nuwe e-bril kon opsit.

Soos altyd het die gemeenskap saamgestaan en binne slegs agt weke die R130 000 help ingesamel om vir haar ‘n eSight-bril te koop. Nou kan sy gesigte sien, asook ver, en sy kan maklik lees.

Daarmee saam kom natuurlik onafhank-likheid in haar alledaagse lewe.

Die borrelende meisie van Hazyview en gr. 11-leerling van Hoërskool Rob Ferreira het verlede naweek skaars ‘n oog toegemaak voor die tweede kwartaal sou begin, bekommerd oor hoe haar maats op haar nuwe sci-fi-bril sou reageer.

“Die teenoorgestelde het gebeur. Hulle is opgewonde en ondersteunend en vra baie vrae. My onderwysers is amper meer opgewonde as ek,” voeg sy by.

Haar ma, Monnique verduidelik dat Amber nou ander mense se reaksie kan sien, en dit is nie altyd mooi nie. Sy fokus ook baie op mense se neuse, omdat sy dit voorheen glad nie kon sien nie.

Haar tannie, Monique Lowther, Amber se rockster wat die fondsinsameling gelei het, het gehoor dat haar neus “groot” is.

Almal het saam help fondse insamel. Oorsese familie en vriende het deur BackaBuddy R17 000 gegee. Mense het anonieme skenkings gemaak, en Amber se maats het help handgemaakte sleutelhouers verkoop.

Met die fondsinsamelingskonsert by The Pub op 1 Maart, het hulle nog R40 000 gekort en dit nog dieselfde aand ingesamel, hoofsaaklik deur ‘n veiling. Hiervoor het Lowther die dorp platgeloop, en die gemeenskap het ruim gegee.

Die familie het almal bedank vir groot en klein bydraes.

Volgende wil hulle Amber se stamselle laat toets om te sien of sy aan moontlike toekomstige proefnemings oor Stargardt se siekte kan deelneem.

Maar vir eers wil sy met alle mag wildtuin toe om die diere weer te kan sien.

Vir navrae kontak Lowther by

082-808-0386 of mlowther@oldmutual.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button