Twintig jaar vir Pinky Strydom se aanvallers
Die twee mans wat Pinky Strydom in 2014 erg aangerand het, is verlede week tot 20 jaar trokstraf elk gevonnis.

MBOMBELA – Woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, Monica Nyuswa, het bevestig dat Steve Seerane en Milton Masuku elk 10 jaar gevangenisstraf opgelê is vir poging tot moord, 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir ontvoering.
Laasgenoemde drie jaar sal saam met die 10 vir poging tot moord uitgedien word, sodat elk effektief 20 jaar sal moet sit.
Laevelder het vroeër berig hoe Strydom op 11 Oktober 2014 in haar huis in Witrivier aangeval is.
LEES MEER: Kleinseun getuig hoe hy beseerde Ouma Pinky (88) bevry
Sy is by haar motorhuis oorval, herhaaldelik met ‘n byl aangrand en gewurg tot sy byna dood is. Sy is ook oor haar matte gesleep tot haar bene gebloei het.
Sy is in ‘n donker kamer sonder kos of water toegesluit. Haar kleinseun, Roelof Duvenhage, het twee dae later op haar afgekom.
Speurder AO Grobbies Grobler het getuig hoe haar aanvallers agt dae na die insident aangekeer is. ‘n Segspersoon het hul huise in Ngodini aan polisie uitgewys.
Seerane was aan die slaap in sy huis. Polisie het twee selfone op sy bed gekry asook ‘n DStv-toestel en ‘n tuisgemaakte byl. Van die items is deur
Strydom as gesteel aangemeld.
By Masuku se huis het hulle, volgens Grobler, ‘n sak met juwele, horlosies, ou muntstukke, sleutels en afstandbeheerders gekry, asook ammunisie en ‘n BB-geweer.
Seerane en Masuku het beide onskuldig gepleit.
Nyuswa het gesê hulle verwelkom die vonnis. “Ons hoop dit sal ander afskrik om dergelike misdade te pleeg.”
SIEN OOK: Psalm 23 hou Pinky Strydom aan die lewe
