Moenie afslag op Innibos se topproduksies misloop nie!
Innibos bied 'n blitswinskopie aan op die kaartjies vir twee topverhoogproduksies. Dit volg ná 'n soortgelyke blitsverkoping van weektoegangskaartjies vroeër vanjaar waar al die kaartjies in minder as 'n halfuur uitverkoop is.

MBOMBELA – Feesgangers moet egter nie gras onder hulle voete laat groei nie, want daar is slegs 100 kaartjies per vertoning beskikbaar en daarby kan dit slegs op ‘n bepaalde dag gekoop word.
Die twee produksies is My Seuns met onder andere Sandra Prinsloo in die rolverdeling, en Musiek en Liriek: 40 Jaar Later, met Anton Goosen en Coenie de Villiers onder die musiekmakers.
Die afslag is telkens ‘n stewige R20 per kaartjie en kan slegs op Dinsdag 30 April by Computicket gekoop word.
Die afslagkaartjies vir My Seuns is vir die vertoning van Dinsdag 25 Junie om 18:00. Vir Musiek en Liriek is dit vir die vertoning op Woensdag 26 Junie om 18:00.

Feesgangers moet hulle oë en ore oop hou vir die volgende blitsverkoping wat later aangekondig sal word.
Van die ander verhoogproduksies waarvan kaartjies tot dusver flink verkoop, sluit in Buddy: The Buddy Holly Story, Die Sjokoladeshow met Lizz Meiring en Jak de Priester, Donkie uit die pen van Dana Snyman met Frank Opperman as ‘n beleërde skoolhoof, en die drama Katvoet – die vertaling van Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof.
Die volledige program is by innibos.co.za beskikbaar. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en die Inniboskantoor in Sonpark.
My Seuns is ‘n eg Suid-Afrikaanse verhaal geïnspireer deur Arthur Miller se All My Sons. Tydens Aardklop is dié drama sesmalig bekroon vir onder meer beste regisseur, teks en produksie.
