Leandie versit berge om mense te help om mekaar beter te verstaan
Leandie du Randt gaan deur die aakligste tyd van haar lewe, 'n egskeiding - nogtans kry sy dit reg om voor gehore op te staan en haar boodskap te deel.

MBOMBELA – Haar praatjie by Hoërskool Bergvlam verlede Woensdagaand is deur Hermanuspietersfontein en die skool aangebied ten bate van Moving Moutains, ‘n plaaslike nie-winsgewende organisasie wat kankerpasiënte help.

LEES MEER: Moving Mountains vir kankerpasiënte
Hierdie bekende aktrise en motivering-spreker se bedryfsielkundegraad kom handig te pas.
Mense se gedrag fassineer haar en sy wil beter verstaan waarom mense optree soos hulle doen. Daarvoor gebruik sy verskillende persoonlikheidsontledings.

“Een van ons grootste probleme is ons verstaan ander nie, want ons verstaan onsself nie,” sê sy.
Moenie ‘n vis beoordeel aan sy vermoë om ‘n boom te kan klim nie, maan sy ouers wat wil hê hulle kinders moet doen wat hulle wil hê, of wees soos hulle dink hulle moet wees.

Hier kom Kobus Neethling se brein-profiele handig in.
Is jy feit-georiënteerd en prakties maar kom harteloos voor? Leef jy streng volgens ‘n om-te-doen-lysie? Dink jy buite die boks? Is jy ‘n mense-mens of ‘n kombinasie van twee hiervan?

Sy noem hoe ander faktore daarop inwerk. Is jy ‘n ekstrovert (kry jou energie deur omring te wees deur ander mense) of ‘n introvert (die teenoorgestelde)?
Daar is 11 tipes intelligensies en vyf tale van die liefde – hoe mense liefde wys, en verkies om dit gewys te word.
LEES OOK: Cyclone Kenneth could be strongest storm to hit Mozambique
Volgens Du Randt gaan alles oor hierdie kennis, asook konteks, grasie en vergifnis.
“Ons maak alles wat ander mense doen, oor onsself.”
Haar raad is om eerder te vra waar die ander mense se reaksie vandaan kom. Die sneller kan selfs ‘n onbewustelike herinnering uit hul kinderjare wees.
Haar eie lewensfilosofie deel ons nie hier nie. Gaan luister liewer self wanneer sy die dorp weer besoek.



