Sanger trek vol sale met sy jongste album
Sy nuwe album is deur sy broer, Pierre de Villiers, geïnspireer, verduidelik hy.

MBOMBELA – Die woorde intiem, vrolik en outentiek kan gebruik word om Joshua na die Reën se optrede te beskryf. Dié gewilde sanger het sy nuwe album, Someraarde, Woensdag- en Saterdagaand by African Dream kom vrystel.
Die gehoor het van vroegdag al hul piekniekmandjies by hierdie splinternuwe venue kom uitpak en het opgewonde gewag om die sanger en liedjieskrywer te hoor. Toe die tyd uiteindelik aanbreek, het hy sommerso vanuit die gehoor met sy kitaar aangestap gekom.
Sy nuwe album is deur sy broer, Pierre de Villiers, geïnspireer, verduidelik hy.
LEES OOK: We’re all in the mood for a melody and Sappi got us feelin’ alright

“Hy het van kleins af mense gedwing om dieper te dink. Partymaal het ek in my kamer gesit en dan bars hy in met ‘n stelling en dan weet ek vir drie weke nie wie ek is nie,” het hy geskerts.
“Maar ek is dankbaar vir hom en die manier waaarop hy na die lewe kyk. Ek het besluit as daar ‘n plek sou wees waarna hy hunker vir die mensdom, ‘n plek waar daar genoeg was vir almal, sou die plek se naam Someraarde wees.”
Dit is egter nie die eerste keer wat hy opskudding in die Laeveld veroorsaak nie. Sy vrou is oorspronklik van Mbombela en as jong sanger het sy heel eerste vertoning destyds by die voormalige Stoep plaasgevind.
LEES OOK: Local dancer to take a bite of the Big Apple

“Hy het eintlik by sy skoonfamilie gekuier hierdie naweek en toe vat ons die kans en nooi hom,” verduidelik Elsabé Malan, wat saam met African Dream se eienaar, Celia van Wyk, die vertoning gereël het.
En nie hulle of die volgepakte sale op albei aande, was teleurgesteld nie. Joshua na die Reën is ook later vanjaar by Loof Hom Innibos te sien.
