Local newsNews

Shanay dans haar pad oop na stad van drome

Sy is 'n jong danser met groot drome, en Shanay Bronkhorst is stadig maar seker besig om haar drome te verwesenlik.

MBOMBELA – Sy is ‘n jong danser met groot drome, en Shanay Bronkhorst is stadig maar seker besig om haar drome te verwesenlik.

Hierdie gr. 10-leerling van Curro Nelspruit wat Vrydag haar 16de verjaardag gevier het, is die dogter van Hans Bronkhorst, ‘n eens bekende plaaslike musikant wat in Junie 2017 skielik oorlede is.

Dit het sy dogter met ‘n keuse gelaat – of sy herdenk haar pa se dood met smart, of sy volg in sy voetspore en leef haar talente en passie uit. Sy het laasgenoemde gekies en dié besluit, met die hoop om haar plek in die vermaaklikheidswêreld te verseker, werp reeds vrugte af.

Haar ma, Sharadene vertel hoe sy reeds van ‘n vroeë ouderdom af voor die spieël gedans het, maar met die aftserwe van haar pa, het haar dans met behulp van Rythm Dance Studio, ‘n heel ander dimensie betree.


Shanay noem dit “passie uit pyn” en voeg by dat passie nie aangeleer kan word nie. “Dans is vir my ‘n medium om ‘n moeilike storie op ‘n maklike, verstaanbare manier te vertel,” sê sy.

Tydens die Talent Africa Nationals wat einde Maart in Roodepoort gehou is, het sy geskitter. Trouens, sy het so goed gevaar dat sy gekies is om vanaf 22 Junie tot 1 Julie Suid-Afrika tydens Talent America te verteenwoordig nadat sy vyf goue medaljes ingepalm het – twee in die ope danskategorie, twee in kontemporêr/modern en een in hip-hop.

Sy het ook ‘n silwer ontvang vir modelwerk in die fotogeniese afdeling. “Vir laasgenoemde het ek ‘n ‘selfie’ ingeskryf, so ek was baie verbaas oor die silwermedalje,” het sy vertel.

Met min tyd oor, konsentreer sy nou op voorbereiding vir dié glansryke kompetisie wat in die sogenaamde stad van drome, New York, waar sy juis eindag wil woon, plaasvind.

Shanay is oorstelp van vreugde om die geleentheid te kry om haar land te kan verteenwoordig. Intussen het sy reeds begin om dansklasse aan te bied om geld in te samel om na die kompetisie te kan reis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button