Instandhouding dalk die rede dat so baie waterpype lek
Siviele ingenieur lê blaam vir onnatuurlike hoë watermeterlesings voor Silulumanzi se deur.

MBOMBELA – Silulumanzi, Mbombela se waterverskaffer, lei glo aan ‘natsak-sindroom’.
Dit is hoe Gideon Engelbrecht, ‘n afgetrede siviele ingenieur wat in Deltastraat woon, Silulumanzi se handelswyse beskryf.
“Hulle wag eers tot ‘n brand uitbreek, dan gryp hulle ‘n nat sak om die vuur te blus. Maar hulle maak nooit voorbrande om die vuur in die eerste plek te verhoed nie.”
Sy mening is dat die swak instandhouding van die waterverspreidingsnetwerk, waarvan groot dele nog uit asbespype bestaan, een van die redes is waarom onnatuurlike hoë watermeterlesings inwoners die afgelope maande teister.
Engelbrecht se reaksie volg nadat Laevelder verlede week berig het oor tientalle inwoners wat die afgelope maande buitensporige hoë waterrekenings ontvang het.
LEES MEER: Residents angry after spike in water bills
Daar is erg gemor oor die beweerde wyse waarop Silulumanzi klagtes hanteer en hulle oënskynlike ongeërgdheid om klagtes te ondersoek. Volgens Engelbrecht het die asbespype, waarvan sommige so lank as 40 jaar gelede geïnstalleer is, hulle vervaldatum bereik.
“Die pype verbrokkel en die geringste skommeling in drukking maak dat dit bars,” sê Engelbrecht. Hy sê Silulumanzi behoort ‘n deurlopende program te hê waar al die asbespype met plastiekpyp vervang word.
Vrae oor dié aspek is aan Silulumanzi gestuur maar teen druktyd het hulle nog nie daarop gereageer nie.
Hierdie week het Colleen Hepburn gesê sy ontvang haar maandelikse rekeningbalans per SMS.
Sedert Januarie het haar rekening só daar uitgesien
18 Desember 2018 – 14 kl = R355 (Januarie)
18 Januarie 2019 – 10 kl = R228 (Februarie)
18 Februarie 2019 – 54 kl = R1 986 (Maart).
In Maart het haar rekening wat sy op die 18e ontvang het, skielik opgeskiet na ‘n verbruik van 550 kl teen ‘n koste van R14 434.
“Ek sidder om te dink wat met die volgende rekening gaan gebeur.”

“Duisende liter water stroom daaruit. Ek het dit aangemeld maar tot drie dae gelede het niemand nog opgedaag om die fout te herstel nie.”
Marius van Aardt, bestuurshoof van Silulumanzi, ontken egter hulle is ongeneë om klagtes te ondersoek.
“Wat ons egter versoek is dat klaers ons van inligting soos die adres en rekeningnommer voorsien. Ons onderneem om elke klag te ondersoek en terugvoer aan die verbruiker te gee.”
Hy sê as die fout by hulle lê, is hulle bereid om die blaam te dra. Verbuikers kan ‘n epos aan enquiries@silulumanzi.com stuur of die kliëntedienssentrum besoek om klagtes aan te meld.
LEES OOK: Desperate former miners sit and wait for intervention
