Local newsNews

Vrou se twee aanvallers gaan 20 jaar agter tralies sit

Die twee mans wat Pinky Strydom in 2014 erg aangerand het, is verlede week tot 20 jaar trokstraf elk gevonnis.

Woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, Monica Nyuswa, het bevestig dat Steve Seerane en Milton Masuku elk 10 jaar gevangenisstraf opgelê is vir poging tot moord, 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir ontvoering.

Laasgenoemde drie jaar sal saam met die 10 vir poging tot moord uitgedien word, sodat elk effektief 20 jaar sal moet sit.

Laevelder het vroeër berig hoe Strydom op 11 Oktober 2014 in haar huis in Witrivier aangeval is. Sy is by haar motorhuis oorval, herhaaldelik met ‘n byl aangrand en gewurg tot sy byna dood is. Sy is ook oor haar matte gesleep tot haar bene gebloei het.

Sy is in ‘n donker kamer sonder kos of water toegesluit. Haar kleinseun, Roelof Duvenhage, het twee dae later op haar afgekom.

Speurder AO Grobbies Grobler het getuig hoe haar aanvallers agt dae na die insident aangekeer is. ‘n Informant het hulle huise in Ngodini aan polisie uitgewys.

Seerane was aan die slaap in sy huis. Polisie het twee selfone op sy bed gekry asook ‘n DStv-toestel en ‘n tuisgemaakte byl. Van die items is deur Strydom as gesteel aangemeld.

By Masuku se huis het hulle, volgens Grobler, ‘n sak met juwele, horlosies, ou muntstukke, sleutels en afstandbeheerders gekry, asook ammunisie en ‘n windbuks.

Seerane en Masuku het beide onskuldig gepleit.

Nyuswa het gesê hulle verwelkom die vonnis. “Ons hoop dit sal ander afskrik om dergelike misdade te pleeg.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button