Nelspruit DBV verwelkom nuwe inspekteur
Sy pleit dat die publiek hul harte vir die DBV oopmaak. Kontak 013-753-3582.

MBOMBELA – Vir Michelle van Wyk bring haar werk baie trane. Gelukkig is dit darem trane van vreugde ook.
Van Wyk is die enigste diere-inspekteur in die Laeveld. Sy het op 1 Mei by die Nelspruit DBV aangesluit. “Hierdie is die lekkerste werk wat ek nog gehad het.”
Sy is al vyf jaar as DBV-inspekteur gekwalifiseer en het van kleintyd af ‘n onwrikbare passie vir diere.
“Ek het op plase grootgeword, eers net buite Middelburg en toe op Pilgrim’s Rest. Ek het toe reeds betrokke geraak by die destydse Laeveld DBV en wanneer hulle nie vir noodgevalle kon uitkom nie, het ek bygestaan.”
Na skool het sy vir lank as ‘n toergids gewerk het. Haar liefde vir die DBV het haar egter teruggeroep.
LEES OOK: Ses gearresteer na grutoneel met beeste

Sy moes al na verskeie grutonele gaan. “Die ergste vir my is hoe onkunde tot ongoddelike wreedheid kan lei. Met een toneel was die eienaar se varke besig om mekaar te eet omdat hy hulle nie reg behandel het nie. Maar omdat ek so lief vir diere is, help ek eers en dan huil ek. Daar is darem dele wat my gelukkig maak.”
Sy raak opgewonde om diere uit gate of puttoilette te red en hou ‘n boks vol kettings van die diere wat sy van mishandeling red.
“Die publiek plaas ongelooflik baie druk op ons. Hulle verstaan nie dat daar net een van my is en dat ons ‘n lasbrief nodig het om ‘n dier te verwyder nie.”
LEES OOK: KYK: Nelspruit DBV veg vir diere gedurende die feesseisoen
