Mustangs bring eersdags die beste van die Wilde Weste
Die Laeveld kan hom eersdags regmaak vir 'n splinternuwe kuierplek met 'n Wilde Weste-tema.

Mustangs sien binnekort die lig en beloof om ‘n kuierplek vir oud en jonk te wees.
“Ons hou baie van dans en het besef daar is werklik ‘n mark vir ‘n goeie dansplek in die dorp,” sê Mustangs se eienaar Bejanke Nel.
Haar verloofde en projekbestuurder, Jaco Swart, voeg by dat hulle ‘n tema wou hê wat by die oudheid en outentiekheid van die Laeveld pas en het daarom op ‘n Wilde Weste-tema besluit.
LEES OOK: As die Laeveldgriepverkoue jou eers beet het
Fase een van dié projek is amper voltooi en sluit ‘n buite kuierarea, ‘n ruim dansvloer en twee kroeë in. Die paartjie beoog ook om verskeie kunstenaars op hul verhoog te verwelkom.

Gedurende die dag sal dié kuierplek as ‘n restaurant vir die gesin dien. As die son sak, word die meel op die vloer gestrooi en kan gaste hulle regmaak vir ‘n behoorlike plaassokkie. Vir die jonges van gees sal daar ook pop- en dansmusiek gespeel word.
LEES OOK: Sonja Herholdt inspireer vroue
“Dit is egter nog net die begin,” vertel Nel. Die plan is dat daar ook ‘n snoekerkroeg op die perseel oopgemaak gaan word, sowel as ‘n groter verhoog waarmee hulle graag van Suid-Afrika se grootste kunstenaars wil lok.
Hoewel die paartjie nuut in die vermaaklikheidbedryf is, het hulle ou hande ingeroep. Phat Boyz en Marlin’s se Chris en Carmen Naude gaan hul spyseniering behartig, terwyl Dewald Botes as bestuurder sal optree.
“Ons hoop om dit ‘n baken in die Laeveld te maak.” Hou gerus die media dop om te sien wanneer hierdie unieke kuierplek se deure gaan oopmaak.
