Wie nie Koekeloer! nie, kan nie wen nie
Ben Pienaar, Gavin van den Berg, Juanita de Villiers Velts en Roche van Blerk skitter in klug se debuut.
Wat maak ‘n suksesvolle klug? Dis vinnig, dis dubbelsinnig, dis aksiebelaai; en hierdie dinge is Koekeloer! gewis.
Hierdie debuutstuk is eg Suid-Afrikaans. Dit is gegrond op die gewilde Koekedoor-konsep, en in watter ander taal as Afrikaans kan ‘n mens so lekker speel met koeke, terte, en voëltjies? (Verskoon tog die dubbelsinnigheid.)

Marie en Marie is die finaliste in die Koekedoor-finaal. Die name verleen hulself heerlik tot die misverstande wat die storie dryf.
Marie (Roche van Blerk ) is ‘n bakster vir die beste tuisnywerheid in die land, een in Koekenaap waar die oujongnooi woon.
Marie (Juanita de Villiers Velts) is ‘n model met ellelange bene en het meer ervaring met terte maak. Sy beplan daarom om haar teenstander in die finaal te kelder deur ‘n bietjie vuil te speel. Die R100 000 prysgeld is darem nie te versmaaie nie.
KYK OOK: VIDEO: Huisgenoot Super Sokkie @ Innibos 2019

Maar dis nie al kompetisie waaraan tert-Marie deelneem nie en daar begin die deurmekaarspul.
Voeg haar veglustige kêrel Bushy (Emil Haarhoff) by, meng met die klouterdief (Tiaan Slabbert), klits die knaende fotograaf (Ben Pienaar) deur en vou “Dominies” (Gavin van den Berg) wat vir koek-Marie kom ondersteun, in, en die vuiste swaai en die onderklere waai.
Die dialoog is vinnig en verskuif blitsig, en die hele rolverdeling se fisiese komedie slaag. Daar is natuurlik ook ‘n familie-intrige, en Koekeloer! kry ‘n astrante stekie in na ander klugte.
Dit gaan oor veel méér as die koek. Dis dalk 10 minute te lank, maar bly tot die einde – die verrassing is die moeite werd. Kom koekeloer gerus!
Vrydag 14:00 en Saterdag 12:00. Tydsduur: 150 min. Prys: R142. Geen o/14’s.

SIEN OOK: kykNET Rock Nou!-Konsert @ Innibos 2019

