Vermaak en ‘n potjie gholf in KNP dra by tot renosterbewaring
Die geld wat tydens die gholftoernooi ingesamel is, gaan spesifiek vir projekte binne die Marakele Nasionale Park aangewend word.
Die Afrikaanse duo, DZL en ook Pieter Koen het onlangs gaste by Skukuza Gholfklub vermaak ten bate van renosterbewaring.
DZL se Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het saam met SANParke se Marakelestreek-ereveldwagters ‘n gholfdag in die hartjie van die Krugerwildtuin aangebied, waarvan die opbrengs vir natuurbewaringsprojekte, met ‘n spesifieke fokus op projekte teen renosterstropery, sal gebruik word.
“Renosterwelstand was nog altyd vir ons ‘n prioriteit en dit is waaraan ons ook baie van ons tyd en aandag spandeer,” vertel Potgieter. “Hierdie projek lê ons dus baie na aan die hart en ons het nie twee keer gedink om betrokke te raak toe die ereveldwagters ons genader het nie.”
SANParke se ereveldwagterskorps is die amptelike vrywilligersorganisasie wat SANParke met verskeie projekte ondersteun. Oor die afgelope jare fokus baie van hul fondsinsamelingsprojekte op renosterbewaring.
“Die dood van hierdie renosters is ongelooflik ontstellend, maar terselfdertyd herinner dit ons aan die feit dat daar nog baie werk is om te doen en dat ons nie kan slap lê nie,” sê Fourie.
“Dit is dus uiters belangrik om projekte soos dié wat die Marakelestreek aanbied, te ondersteun, want die geld word daadwerklik aangewend om stropery te voorkom.”
Die geld wat tydens die gholftoernooi ingesamel is, gaan spesifiek vir projekte binne die Marakele Nasionale Park aangewend word, aangesien die park se wit- en swartrenoster-bevolking gereeld die teiken van stropers is.
“Toerusting wat aangekoop gaan word, sluit ‘n veldkampeerwa met elektriese toerusting en sonkragsisteem, 20 slimfone om kommunikasie tussen die spanne in die park te verbeter, 17 eenmantente vir die teenstropingspanne sowel as ses skandeerders vir voertuie en lisensies in,” verduidelik Fourie.
Spelers van regoor die land het aan die gholfdag deelgeneem. ‘n Soortgelyke geleentheid word vir volgende jaar ook beplan.
