Hierdie motorfietsryers skrik nie vir 1 000 kilometers in ‘n dag nie
Die 35 fietse kon Saterdag R11 000 vir liefdadigheid insamel.

MBOMBELA – Plaaslike motorfietsryers het Saterdag uitgehaal en gewys en 1 000 kilometers in die Laeveld afgelê. Dit was alles ten bate van Damaskus Plaas en Amakhaya Kinderhuis.

Beide word deur die organisasie sonder winsoog-merk, Mpumalanga Leadership Foundation bedryf. Die motorfietsryers het hulself kisboude gery om R11 000 in te samel.
SIEN OOK: Mandela Day celebrated at Damascus
Altesaam 35 motorfietse het aan die rit deelgeneem.
Dit het hulle van Mbombela, Badplaas, Carolina, Hendrina, Middelburg, Lydenburg, Hazyview, Orighstad, Burgersfort, Dullstroom, Belfast en terug na Mbombela geneem.
Ryers van so ver as Phalaborwa en Pretoria het deelgeneem.

Hulle het 05:00 afgeskop met gratis koffie by McDonald’s Nelspruit en afgesluit met gelukkige trekkings by Marlin Pub & Grill. Hier is die meeste fondse ingesamel.
Organiseerder TJ Maré het gesê dit was ‘n groot sukses en hulle het reeds inskrywings vir volgende jaar se beplande rit.
Die dag was sonder voorval, buiten een ryer, Pieta Erasmus wat in ‘n ongeluk betrokke was toe ‘n meubelstuk van ‘n trok voor hom afgeval het.

LEES MEER: MLF doen hul deel vir gemarginaliseerdes
Hy is eers hosptiaal toe, maar is later ontslaan met twee baie seer hande. Hy het die rit wel terdeë geniet en kon dieselfde aand nog by die ander ryers aansluit vir die vieringsverrigtinge.
“Aan almal, baie dankie. Julle is puik,” het hy die groep laat weet. “Pottie en Joey (Potgieter van die polisie se duikeenheid), julle is spesiaal. (Julle) het alles gereël en my mooi opgepas en gedoen wat julle kon.

“Ek is oukei. (My) hande en gewrigte (is) baie seer en geswel. Een lid (my) van vinger (is) gesplinter. TJ en al die ander – wat ‘n voorreg om deel van julle te kan wees. Alle eer aan ons almagtige Here wat ons deur alles dra.”
