Local newsNews

Nuwe Tucson Sport betree die mark met mening

Die Koreaanse motorvervaardiger Hyundai het onlangs die nuwe Sport-weergawe van sy gewilde Tucson middelslag sportsnutsvoertuig plaaslik bekendgstel.

Dit is die tweede generasie van die Sport en is ‘n produk eie aan Hyundai Suid-Afrika. Die vorige model is in 2017 plaaslik bekendgestel en het die vervaardiger se “N” -kenteken gedra, maar dit het blykbaar nie die ringkoppe in Korea se goedkeuring gehad nie.

Terwyl aanvanklik net beplan was om 500 modelle te bou, is daar uiteindelik 516 van hierdie spesiale modelle verkoop. Die Tucson is ‘n gewilde model vir Hyundai wêreldwyd en is ook goed ontvang in SA, waar dit meeding met onder andere die Toyota RAV4, VW Tiquan, Mazda CX-5 en Ford Kuga.

LEES OOK: The best of old and new cars stands out at the Knysna Motor Show 2019

Die vorige Sport was beskikbaar met ‘n 6-spoed handratkas asook ‘n dubbelkoppelaar wat outomaties met die handrat gewerk het, wat meer gewild was, sou verkope die maatstaf wees. Vir die 2019 Sport, bied Hyundai SA twee modelle, naamlik ‘n 1.6 Turbo-petrol en ‘n 2.0-liter Turbo-diesel, beide slegs met outomatiese ratkaste wat krag deur die voorwiele dryf.

Die 1.6 Turbo-petrol maak gebruik van ‘n 7-spoed dubbelkoppelaar-weergawe wat ook met ratspane agter die stuur kan wissel, terwyl die diesel toegerus is met Hyundai se eie uitstekende 8-spoed outokas.

Beide enjins in die Sportweergawe is mee getoor deur spesiale elektroniese sagteware van Chipbox te installeer, asook met die gebruik van ‘n versterker om die petrolpedaal-reaksie vinniger te maak.

Die gevolg is dat die 1.6 Turbo-petrol in die 2019-weergawe 150kW en 300Nm lewer teenoor die vorige model se 130kW en 265Nm piekkragte, terwyl die 2019 2.0 liter-diesel 150kW en 460Nm uitskop vergeleke met die uitgaande model se 131kW en 400Nm.

Die resultaat op die pad is nogal dramaties, veral met die petrolweergawe wat die voorwiele maklik laat tol by wegtrek, danksy ‘n uiters sensitiewe petrolpedaal. Plant jy egter die regtervoet, kan die stuurwring nogal pla, waar dit veral deur die draaie tot effe stuurtraagheid kan lei.

Voorkoms

Die nuwe Sport vertoon inderdaad aggressief sportief met prominente lugskorte voor, agter en langs die sye. Die voorste lugskort kry ook ‘n addisionele lugsnoer wat prominent soos ‘n onderlip na voor uitstaan.

Agter pryk twee dubbele uitlaatpype wat netjies in die agterste lugskort ingepas word. Verder word die nuwe Sport toegerus met unieke groot swart 19-duim allooiwiele wat saam met die swart afwerking van die dak pragtig konstrasteer met die Sport se verskillende bakkleure.

Die geheelbeeld bied ‘n treffende sportiewe voorkoms wat myns insiens tans die prys moet kry vir mooiste-in-klas. Binne is die kajuit soortgelyk aan die topmodel Elite in die Tucson-reeks en is goed afgewerk, luuks beklee en omvattend toegerus.

Standaardtoerusting sluit onder meer in elektroniese voorste sitplekke, ‘n panoramiese glasdak wat kan oopwip en skuif, spoedbeheer, ‘n seweduim raakskerm waarop ritinligting en tru-kamerabeelde verskyn en waarmee al die kommunikasie- en klankinligting beheer kan word. Verder kom die nuweling ook met LED-dagry-liggies.

Op die pad

Die Tucson Sport se laeprofielbande is nie juis ideaal vir grondpaaie nie, maar ons rit op ‘n modderige stuk grondpad was geensins ongemaklik of onstabiel nie, met die onderstel en veerstelsel wat die Sport padvas en stabiel laat hanteer het.

Op die uitdagende bekendstellingsroete gedurende ‘n reënerige Kaapse wintersdag het die nuwe Sport lekker hanteer en besonder goeie paddinamika getoon.

Dit was egter tydens die platvoet-oopketelsessies rondom die Killarney Internasionale Renbaan buite Kaapstad, waar die 2019 Tucson Sport-modelle beïndruk het met goeie balans, uitstekende remme en lewendige verrigting. Veral die 1.6 Turbo-petrolmodel wat maklik en vinnig deur die toerestrek hardloop, was ‘n opwindende ervaring.

Teen R664 900 is die R2.0 Tucson Sport Turbo-diesel my keuse as ‘n sportiewe gesinswa, terwyl ek die 1.6 TGDI petrol- Tucson Sport teen R654 900 graag sal wil hê wanneer ek lus voel om deur die draaie te gaan speel.

Teen R60 000 meer as die gewone Elite-modelle, bied die nuwe Sport-modelle egter opwindende verrigting met ‘n koppe-draai stylpakket. Sport-modelle bied steeds die standaard sewejaar/200 000 km waarborg, sewejaar/150 000 km padbystanddiens en vyfjaar/90 000 km diensplan soos die gewone modelle. Eerste diens is op 5 000 km met 15 000 km-intervalle daarna.

LEES OOK: Tips for driving in the dark

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button