Almal hoop saam vir ‘n tweede kans vir dié swartrenosterkoei
Die park se swartrenosterbevolking het die afgelope jare van sowat 400 tot 700 vermeerder, maar elke nuwe aankomeling is welkom.
As die skoen jou pas, trek dit aan.
Hopelik is dít presies wat ‘n swartrenosterkoei van die Nasionale Krugerwildtuin ook sal voel oor die verwagtinge wat haar weldoeners vir haar en die toekoms het.
Hoewel die eerste prys haar vrylating terug in die natuur sou wees, hoop haar versorgers dat sy ten minste later in ‘n groter kamp aan ‘n potensiële lewensmaat voorgestel sal kan word. Almal hoop natuurlik dat dit tot die geboorte van ten minste een klein swartrenosterkalfie mag lei.
Die park se swartrenosterbevolking het die afgelope jare van sowat 400 tot 700 vermeerder, maar elke nuwe aankomeling is welkom.
Daar is verlede jaar reeds deur verskeie media berig oor die besonderse pasiënt in die boma by Skukuza.
In ‘n deurbraak-operasie is sy destyds met ‘n duursame “skoen” toegerus om haar vergruisde regteragterpoot te laat herstel. Op hierdie manier is sy ‘n nuwe kans op lewe gegee nadat sy waarskynlik deur ‘n stroper gewond is.
Tydens ‘n onlangse besoek kon fotograwe en joernaliste dit nog skaars waag naby die boma waar sy, van nature maar ‘n omgekrapte spesie, aangehou word. Daar was darem vinnig kans om ‘n paar foto’s te steel.
As lid van die uiters bedreigde swartrenosterspesie, is die koei met uiterste sorg behandel nadat sy naby Satara met ‘n aaklige wond aan haar regteragterbeen opgemerk en na die boma by Skukuza gebring is.
Hier het X-strale bevestig dat die toonbene vergruis was en infeksie reeds haar voetsool geëis het. Haar voet is na behandeling eers in gips geplaas en daaglikse groot hoeveelhede antibiotika, pynstillers en ander medikasie moes herstelling verder aanhelp.
Gelukkig is Cathy Dreyer, renosterkenner, in die park met ‘n navorsingsprojek besig en het sy dae saam met die koei deurgebring, selfs geslaap, om haar aan menslike aanraking gewoond te maak.
Gewone gips, wat met elke behandeling met groot moeite afgesaag en deur nuwes vervang moes word, was nie ideaal nie en ‘n skoen van sterk, maar nie-irriterende materiaal is toe ontwerp waarmee sy selfs kon loop.
Met behandelings kon dit bloot uit- en aangetrek word omdat dit met gespes en skroewe toegerus was.
Dreyer het met die besoek verduidelik dat die voet reeds baie mooi herstel het, maar dat die koei waarskynlik nooit weer in die vrye natuur vrygelaat sal kan word nie.
Vandaar die hoop dat ‘n tweede beste plan tóg sal slaag.
