Local newsNews

Liefde bly heers na 70 sakke sout

Alida het byna letterlik oor sy pad gekom en hierdie week het die twee hul sewentigste huweliksherdenking gevier.

Gelukkig het Pieter Smit destyds na sy ma se raad geluister toe sy hom gewaarsku het om nie vrou te soek nie, maar om te wag tot die regte een oor sy pad kom.

Die rede, het sy gesê, was dat hy dan allerhande voorwaardes sou kon uitdink waaraan sy lewensmaat sou moes voldoen, en in die proses dalk óf glad nie een na sy smaak kry nie, óf heeltemal ‘n verkeerde vrou kies.

Dit was toe hy op die jong ouderdom van 16, na sy pa se dood, moes uitspring om te gaan werk. Skaars twee jaar later het Alida toe byna letterlik oor sy pad gekom en hierdie week, op 1 Oktober, het die twee hul sewentigste huweliksherdenking gevier.

Pieter het op Bethal grootgeword en het as jong werkende man die gewoonte gehad om smiddae na werk ‘n bietjie te gaan kuier en ‘n koppie koffie drink, toe hy een namiddag twee vreemde meisies uit ‘n nabygeleë losieshuis sien stap.

Hy vertel dat toe hulle by hom verbystap en die een met hom oogkontak maak, hy ‘n duidelike stem kon hoor wat vir hom sê: “Kyk mooi na haar en pas haar mooi op.” Toe hy dieselfde boodskap ‘n tweede keer hoor, het hy besef hy moet gaan uitvind wie dié mooi blonde nooi was.

By die losieshuis kon hy toe uitvind dat “die blonde ene” aansoek gedoen het om daar te kom inwoon, maar die losieshuisdame het hom helaas die verkeerde van vir die meisie verskaf.

Aangesien Pieter destyds oor die pos gestudeer het en juis besig was om vir sy eksamens te leer, het hy besluit om maar eers te wag voordat hy verder na sy droommeisie soek.

Groot was sy vreugde toe Alida ‘n maand later by die losieshuis ingetrek het en hy kon gaan kennis maak. Sy was ‘n haarkapster wat in Johannesburg aan ‘n technikon studeer het.

Op 1 Oktober 1949, toe hy reeds 22 jaar oud en sy amper 22 was, is hulle toe in Standerton, waar Alida vandaan gekom het, getroud.

Pieter het destyds konstruksiewerk vir Telkom gedoen en hulle het baie rondgetrek, maar toe hy 32 was is hy ‘n pos in Witrivier aangebied en het hulle hierheen getrek. Hulle woon sedertdien op die dorp, en sedert 2006 in een van die woonstelle by Rustig Ouetehuis.

Die Smits het twee kinders, wat gelukkig naby genoeg in Mbombela woon, en spog met vyf kleinkinders en 12 agterkleinkinders. Alida was ook vir baie jare by die Witrivier Pre-Primêre Skool werksaam en is by talle van die dorp se kinders bekend as ouma Lida.

Hoewel hulle nie meer daarvan hou om baie rond te ry nie, slegs in die dorp en dalk Mbombela toe, is hulle nog heeltemal selfversorgend.

Oor die geheim van hul baie jare saam, stem hulle gelukkig ook nog saam: dat ‘n mens maar net vir mekaar moet lief wees en na mekaar omsien. Hulle het geen groot partytjie gehou om die mylpaal te vier nie, net lekker met hul kinders gekuier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button