Beurtkrag: Suid-Afrika se elektrisiteitsektor moet dringend hervorm word
Meer as 25% van die land se voedsel word deur besproeiingsafhanklike en energie-intensiewe bedrywe geproduseer.
Agri SA is baie bekommerd oor die negatiewe impak wat beurtkrag op die primêre landbousektor, die voedselwaardeketting en die Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê.

“Eskom se implementering van fase 2-beurtkrag sedert Woensdag het die Suid-Afrikaanse ekonomie onkant gevang,” sê Nicol Jansen, Agri SA Voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel.
“Vroeëre waarskuwings kon ’n groot verskil gemaak het vir boere en besighede omdat hulle hul beplanning daarvolgens sou kon doen.”
Beurtkrag het ’n impak op besproeiingsafhanklike en energie-intensiewe bedrywe soos tuinbou, suiwel, pluimvee en agro-prosessering. Besproeiing, skedulering van besproeiing, die aanwending van kunsmis, verwerking en verskeping word alles nadelig deur onbeplande kragonderbrekings beïnvloed.
LEES OOK: Tourist gets out of car to photograph lions
“Die las van beurtkrag is onaanvaarbaar. Ons het ’n ekonomie nodig wat groei en wat alle Suid-Afrikaners kan ophef. Die onbetroubaarheid van kragvoorsiening is ’n enorme struikelblok vir ons ekonomie en die vooruitsigte vir ekonomiese groei.”
“Tesame met stygende elektrisiteitstariewe, het beurtkrag ’n ontwrigtende invloed op besigheidsbedrywighede en gaan gepaard met direkte sowel as indirekte koste.”

Terwyl die kabinet se onlangse goedkeuring van die Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP2019) ’n stap in die regte rigting is, is meer dringende regeringsoptrede nodig om die elektrisiteitskrisis aan te spreek. Dit sluit in, maar is nie beperk tot die volgende nie:
- Die aanstelling van ’n Eskom-HUB met bewese leierskapsvermoë;
- Herstrukturering van Eskom, met ’n holistiese hersiening van die energiesektor en die kragvoorsieningsbedryf;
- Bestuur toekomstige elektrisiteitstariewe op ’n deursigtige en voorspelbare wyse;
- Besliste optrede ten opsigte van skuldverligting en die herfinansieringsmeganisme;
- Moedig breër privaatsektor-deelname aan, byvoorbeeld kleinskaalse kragprojekte (SSEG’s) in die landbou en skakel administratiewe rompslomp uit.
In die kort-termyn sal Eskom meer bedagsaam teenoor sy kliënte moet wees deur hul vroegtydig oor kragonderbrekings in te lig.
