Local newsNews

Bok sonder rugvel in KNP gewaar

Dit was 'n geval van die ongenaakbaarheid van die natuur, maar ook die onblusbare wil om te oorleef. 

Dit glo Marius Nortje is wat hy in ‘n reeks skokfoto’s van ‘n beseerde rooibok vasgelê het terwyl hy vroeër die maand in die Nasionale Krugerwildtuin gekuier het.

In die foto’s kan gesien word hoe bykans die hele rugvel van ‘n jong rooibokooi afgeskeur is. Daar was ook diep naelkrapmerke aan haar linkerflank, vertel Nortje.

Nortje, ‘n professionele fotograaf wat naby Magaliesberg woon, was laat-middag haastig op pad terug met die S25-pad Krokodilbrug toe waar hy sou oornag.

LEES OOK: Additional family member in court for fraud and theft

“Dit was so 20 minute voor 18:00 en ek het geweet ek sal die 18 km wat tussen my en die kamp was, gemaklik maak teen wanneer die hekke sluit. Ek het uit die hoek van my oog gesien daar is iets blink op die een ooi se rug. Ek het geweet dit kan nie water wees nie en daar was geen reën in die lug nie.”

Uit nuuskierigheid het hy stilgehou en agteruit gery om te sien wat sy oog gevang het. Dit is toe hy opmerk die ooi se rug is sonder vel. Hy moes ‘n hele paar minute wag sodat die dier dwars draai.

Hy het agter-gekom die dier se vel is van haar skof tot by haar stert losgeskeur. Die vel het agter afgehang langs haar stert. “Dit het amper soos ‘n tweede stert gelyk.

“Wat vir my verstommend was, was hoe die bok skynbaar sonder tekens van enige pyn of ongemak tussen die boompies en gras loop en vreet het.

“Ek is nie ‘n natuurkenner nie, maar is van mening die rooibok was die slagoffer van ‘n jong luiperd wat haar getakel het. En omdat die luiperd dalk nog onkundig was in die kuns van jag, het die bok daarin geslaag om weg te kom.”
Nortje sê indien die aanvaller ‘n leeu was, selfs ‘n jonge, sou die bok waarskynlik dood gewees het.

“‘n Leeu spring gewoonlik bo-op sy slagoffer en slaan tande in die dier se skof in. En as die dier val, gryp die leeu dit aan die keel.”

Volgens hom was die wond aan die rooibok nie baie vars nie, en maar was daar ook nie juis tekens van infeksie in die wonde nie.

Hy glo die bok sou in die toestand en omstandigehde kon oorleef, mits hy natuurlik nie weer die slagoffer van ‘n ander roofdier soos ‘n hiëna of leeu sou word nie.

Nortjie wou die volgende oggend weer met die S25 ry om te sien of hy die bok kon opspoor. “Maar my vrou, Michelle, het teëgeskop en gesê sy wil nie sien hoedat die bok dalk deur die nag opgevreet is nie!”

LEES OOK: Two men caught with live pangolin

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button